loading
Artikels
1 jaar gelede
die-impak-van-maatskaplike-werkers-op-jou-gemeenskap

Foto Krediet: OkayDeer

Die impak van maatskaplike werkers op jou gemeenskap

Deur Ané Janse van Rensburg

Die rol van maatskaplike werkers in die gemeenskap is onmisbaar. Daar waar mense swaarkry, staan hulle sterk om as hoopdraers op te tree.

Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk gesels met Ina van Eleos, ʼn maatskaplike werker, oor die impak van maatskaplike werkers op die gemeenskap, en hoe die wêreld dalk sonder hulle sou lyk.

Hoekom is dit na jou mening nou belangriker as ooit tevore om maatskaplike werkers in die gemeenskap te hê?

Ons land is in ʼn krisis ten opsigte van ons ekonomie, algemene morele waardes en norme en ook moraal. Mense kry swaar, hulle hoop is beperk en die daaglikse nuus is meestal negatief. Die werkloosheidsyfer is hoog, daar is min hulpbronne vir armes en sisteme is besig om kwaai skade te ly. Armoede word ʼn redelike algemene gesig, en die gemiddelde mense in ons land sukkel om maandeliks hulle verpligtinge na te kom. Wanneer mense swaarkry, fokus hulle op oorlewing en dan gaan interpersoonlike vaardighede en empatie dikwels verlore, wat dikwels tot ʼn toename in misdaad, wanpersepsies en impulsiewe gedrag lei. Ons land het mense nodig wat voor kan loop – mense wat diegene wat hulp nodig het, ondersteun en begelei. Ons land het mense nodig wat wanpersepsies kan hokslaan deur vir gemeenskappe die regte inligting deur te gee en sodoende wanhoop te beveg. Ons land het alternatiewe nodig vir impulsiewe gedrag soos drank- en dwelmmisbruik en promiskue seksuele verhoudings. Maatskaplike werkers het die vermoë om gemeenskappe te bemagtig deur kennis te deel, vaardighede aan hulle te leer en mense by die nodige hulpbronne te kry sodat hulle in staat kan wees om hul gesinne te versorg. Dwelm- en alkoholverslawing is dikwels die uitvloeisel van wanhoop oor omstandighede, of van verveeldheid wat tot eksperimentering lei, en die effek daarvan op gesinne is ongelukkig groter wanhoop en wanorde.

Maatskaplike werkers is opgelei om programme aan te bied wat gemeenskappe bemagtig om probleemsituasies op ʼn positiewe manier te hanteer, om groepwerksessies aan te bied wat gedeelde probleemareas in gemeenskappe dek, en om mense te leer om mekaar te ondersteun en te bemoedig. Maatskaplike werkers gee ook individuele terapie en doen beplanning wat individue en gesinne in staat stel om hulle lewensuitdagings met nuwe kennis, ʼn ander uitgangspunt en ʼn beter begrip van mekaar se behoeftes aan te pak. Ek wil hierby voeg dat ons juis nou nuwe sisteme, nuwe denke en nuwe maniere nodig het om ons land se unieke potensiaal te ontgin, maar wat ook sinvolle alternatiewe bied vir die uitgediende sisteme wat nie in al ons landsburgers se behoeftes voorsien nie.

Wat dink jy is maatskaplike werkers se grootste rol in die werk wat hulle doen?

Maatskaplike werkers verskaf inligting, verbreed kennis en ondersteun mense tydelik in krisissituasies totdat ʼn meer permanente ondersteuningstruktuur daargestel kan word. Dit is dan ook die maatskaplike werker se rol en taak om die kliënt/gemeenskap te help om ’n meer permanente ondersteuningstruktuur te identifiseer en te ontwikkel. Vir maatskaplike werkers om hulle werk goed te kan doen, het ons egter goeie hulpbronne nodig vir diegene wie se eie huisgesinne/gemeenskappe nie alleen in hulle behoeftes kan voorsien nie, byvoorbeeld ons gestremdes, ons bejaardes en ons persone wat uitdagings met geestesgesondheid ervaar. Hoewel hierdie fasiliteite privaat beskikbaar is, is dit die armes wat hierdie broodnodige dienste ontbeer omdat dit nie in plek is nie. Daar behoort ook fasiliteite te wees vir gerehabiliteerde misdadigers en substans-afhanklikes wat nie privaat dienste kan bekostig nie, maar hierdie hulpbronne is beperk. Dit lei daartoe dat maatskaplike werkers se opsies beperk is en dat hulle op ʼn daaglikse basis eintlik slegs vure kan doodslaan, dit wil sê krisisbeheer toepas, terwyl hulle eintlik voorkomend moet werk. Maatskaplike werkers is opgelei om situasies te analiseer en ʼn behandelingsplan op te stel wat kan voorkom dat gesinne verbrokkel. Dit bied ook die geleentheid om interpersoonlike vaardighede aan mense te leer, asook maniere te vind waarop hulle hul situasie positief kan beleef en benut. Maatskaplike werkers bemagtig gemeenskappe om probleemareas hok te slaan deur werkskeppingsprojekte, ouerleiding, inligtingsgroepe, vaardigheidsontwikkeling en meer, geskoei op die behoeftes van die spesifieke gemeenskap. Dit beteken dat hulle tyd tussen mense moet spandeer om werklik hulle behoeftes raak te sien en raak te hoor.  

Wat dink jy sou gebeur as ons nie maatskaplike werkers gehad het nie?

Maatskaplike werkers is dikwels vir my die gewete van ʼn gemeenskap – die een wat kyk dat hulpbronne nie misbruik word nie, dat elkeen ʼn gelyke kans het om geleenthede aan te gryp en dat mense wat nooit ʼn voorbeeld gehad het nie, van ʼn voorbeeld voorsien word. ʼn Gemeenskap sonder ʼn maatskaplike werker is soos ʼn persoon sonder ʼn gemeenskap. Hulpbronne word geplunder, ongelykheid pla niemand nie en probleme word nie aangepak nie – dit sneeubal eenvoudig net. ʼn Gemeenskap het ʼn sagte oor nodig wat hulle behoeftes kan aanhoor, maar ʼn ferm hand om hulle te lei. Maatskaplike werkers bring hoop en die kans op verandering. Hoewel daar altyd mense sal wees wat ander versorg, ontbreek die komponent van bemagtiging sonder maatskaplike werkers. ʼn Sopkombuis gee kos; ʼn maatskaplike werker by ʼn sopkombuis bring opsies. Maatskaplike werkers sien die groter prentjie. Sonder maatskaplike werkers verloor ons perspektief en hanteer ons bloot die krisis op hande sonder om die langtermyn-uitwerking/-doelwitte in ag te neem.

Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk dien as ʼn ondersteuningsnetwerk vir diegene wat soveel ondersteuning aan ander verleen. Die netwerk is ʼn uitgestrekte hand wat saam met diegene wil stap wat hul roeping met passie uitleef. Indien jy graag deel wil vorm van hierdie netwerk, klik hier en stap saam met Solidariteit die pad!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel