Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Die klok het vir rasmalheid gelui
Die Verenigde State van Amerika (VSA) het visumbeperkings as straf aangekondig vir Suid-Afrikaanse regeringslui wat aandadig is aan onder meer die gebruik van rassewette, wat teen minderheidsgroepe diskrimineer en ons land se ekonomie vernietig.
Dit volg ná jare se werk van Solidariteit om die saak plaaslik en internasionaal aan te roer.
Hier is wat dr. Dirk Hermann hieroor sê:
Dit is tyd dat Suid-Afrika sy rasbeleid uitfaseer; nie omdat die VSA dit vra nie, maar omdat dit die regte ding is om te doen. Suid-Afrika is die mees rasgereguleerde land ter wêreld. Die land se rasbeleid oortree talle internasionale konvensies.
Dit bevoordeel slegs ’n klein groep elite, terwyl dit die meerderheid Suid-Afrikaners benadeel. Dit is nadelig vir werkskepping en ekonomiese groei. Dit is nou tyd om Suid-Afrika se rasbeleid te beëindig.
President Ramaphosa meen die VSA moet Suid-Afrika se soewereiniteit respekteer. Suid-Afrika wil soewerein wees deur teen Amerikaanse maatskappye te diskrimineer.
Die VSA vra om nie teen sy maatskappye te diskrimineer nie. Dit ontneem hulle van hulle soewereiniteit om vry sake te doen. Die VSA meen rassewette beperk handel en is in praktyk ʼn handelstarief.
Suid-Afrika het die soewereine reg om hom nie daaraan te steur nie, maar so ’n besluit kan ernstige gevolge inhou. Soewereiniteit beteken dat ’n land die reg het om besluite te neem wat in die belang van sy inwoners is.
Die Suid-Afrikaanse regering neem egter besluite wat nie in die belang van die land en sy mense is nie.
Die huidige rasbedeling is nie goed vir Suid-Afrika nie, ongeag of die Amerikaners veranderinge daaraan eis. Dit is egter nou ook in die Amerikaners se belang dat die rasbedeling verander en daarom word die kwessie op die spits gedryf.
Behalwe vir ’n klein groep elite, is dit in almal se belang dat die rasbedeling verander. Dié klein groep klou vas aan hulle bevoordeling onder dekmantel van historiese benadeling.
Dis tyd dat rassewette moet weg.