
Foto Krediet: RSG
Gekopieër
Die legende agter die bekende RSG-stem
Deur Heléne Leonard
Mariëtta Kruger, legendariese RSG-omroeper, is só eie aan die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap soos Kurt op ʼn sokkie.
Foto: RSG
Sy het sedert die vroeë 80’s motoriste as radio-anker vergesel en vir hulle die nuutste wêreldnuus vertel. Sy het haarself verder saans op elke Afrikaanssprekende se TV-kassie tuisgemaak, waar sy saam met Riaan Cruywagen as mede-nuusaanbieder die Afrikaanse gemeenskap vermaak het.
Ter viering van Wêreldradiodag kyk sy terug op haar suksesvolle loopbaan as omroeper en gee waardevolle raad aan jongmense wat eendag dalk die uitsaaiwese wil betree. “Ek was bevoorreg om my heel eerste werk by die SAUK te kry,” vertel sy. Kruger onthou dat dié werk wel baie moeite geverg het en ʼn uitdagende proses was.
“Die eerste rondte van oudisies was moeilik. ʼn Mens se algemene kennis moet puik wees. Daarom het ek van kuns, musiek en klassieke musiekterme tot stede, presidente en geskiedenis bestudeer. My Afrikaans moes natuurlik suiwer en vlot wees; gelukkig was die bekende Afrikaanse skrywer Joan Hambidge my buurvrou.”
Gedurende haar tyd by die SAUK het sy – deur goeie mentorskap, deursettingsvermoë en aanpasbaarheid – een van Suid-Afrika se bekendste omroepers geword. “Kundiges soos Johann Stemmet en prof. Theuns Botha het my onder hul vlerk geneem en só het ek baie ervaring opgedoen en die geleentheid gekry om vrae te vra. ʼn Mens moet altyd vrae vra en dan die raad wat ander jou gee, jou eie maak,” sê Kruger.
Kruger het aanvanklik nie haar droomwerk gekry nie. Alhoewel sy bevoorreg was om sommer met die intreeslag ʼn nuusskrywerpos by die SAUK te kry, het sy geweet dat haar hart agter die mikrofoon lê. Volgens haar moet ander jongmense net aanhou: aanhou ondervinding opdoen sodat ʼn mens op die ou end ʼn “Jack of all trades” is. “Werk net hard, wees gewillig om nuwe goed aan te pak en glo in jouself.” Só sal ʼn mens wel ʼn suksesvolle loopbaan behaal.
Aanpasbaarheid is ook vir Kruger van uiterste belang. Toe sy destyds as jong omroeper begin het, was die stelsels en tegnologie glad nie wat dit vandag is nie en daarom moes sy aanpasbaar wees en haarself met nuwe toestelle en maniere van nuus lees bemagtig.
Sy onthou ook ʼn fout of twee wat sy begaan het toe sy saans saam met Cruywagen nuus op die kassie gelees het. “Die papegaailens wat die woorde voer waarvan jy aflees, het nie na die nuwe storie toe oorgegaan nie en ek vra toe vir die mense op die stel om my te help. Toe ek weer sien, het ek op ʼn nasionale uitsending gesê: “Ag liefie, wil jy nie die papegaailens aanskyf nie?”
Sy is passievol oor Afrikaans én die toekoms van Afrikaans. Sy glo dat jongmense ʼn plek vir Afrikaans moet skep en dat daar groot geleenthede in dié bedryf lê, solank jy net jou moedertaal uitleef. “Solank ons Afrikaans praat, dit beoefen en behoorlike nuus skryf, wag daar ʼn blink toekoms vir jongmense, én Afrikaans. “My siening sou wel ʼn bietjie anders wees as dit nie vir organisasies soos die ATKV en Solidariteit was wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap bewaar en bevorder nie.”