Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
160 000 profielregistrasies: Solidariteit-aanlyn groei elke dag
Deur Leré Nel
Solidariteit-aanlyn het nóg ’n indrukwekkende mylpaal bereik: meer as 160 000 profielregistrasies. Hierdie groei bevestig dat al hoe meer mense hul plek vind in ’n aanlyn gemeenskap wat fokus op werk, leer, ontwikkeling en wedersydse ondersteuning.
Solidariteit-aanlyn is ʼn tuiste vir meer as 160 000 mense wat aktief deelneem. 160 000 mense wat besluit het om in hulself, hul loopbane en hul toekoms te belê. Dit is 5 500 skoliere wat tans keuses vir hul toekoms moet maak, studente wat hul eerste tree na die wêreld van werk gee, jong werkendes wat hul loopbane bou, ervare beroepslui wat hul vaardighede slyp, meer as 4 000 werkgewers wat poste adverteer en werksoekers wat nuwe geleenthede ontdek.
En hierdie groei staan beslis nie stil nie. Elke dag sluit nuwe gebruikers by Solidariteit-aanlyn aan en versterk die gemeenskap verder.
ʼn Aktiewe aanlyn gemeenskap
Solidariteit-aanlyn het oor die afgelope paar jaar ontwikkel in iets wat veel meer as net ’n werkfasiliteringsplatform is. Dit is nie net nog ʼn LinkedIn of Pnet nie. Dit is ’n beroepstuiste waar gebruikers toegang kry tot meer as 15 500 poste, 11 beroepsnetwerkgroepe, 8 sektorgroepe nagenoeg 150 kursusse vir voortgesette leer, mentorskap, beroepsadvies en waardevolle inhoud wat hulle help om hul volle potensiaal te bereik. En nog belangriker: hulle bou verhoudings met mense wat ook op dieselfde reis is.
Hierdie groei weerspieël ook ’n groter tendens: mense besef toenemend dat hulle self verantwoordelikheid vir hul toekoms moet neem. In ’n wêreld waar verandering vinnig plaasvind, kies al hoe meer Afrikaners om deel te word van hierdie aanlyn gemeenskap wat geleenthede skep, kennis deel en mekaar bemagtig. Ons doen dit self, en ons doen dit saam.
Nuwe funksionaliteite
Klets – jou KI-assistent, altyd beskikbaar
Een van die opwindendste nuwe toevoegings tot Solidariteit-aanlyn is Klets, jou persoonlike KI-assistent. Klets help gebruikers om vinnig antwoorde te kry op loopbaan- en werkverwante vrae, hulp te ontvang met CV’s, werksoektogte, onderhoudvoorbereiding en professionele ontwikkeling. Anders as algemene KI-instrumente is Klets deel van die Solidariteit-aanlyn-ekosisteem en ontwerp om gebruikers te ondersteun binne die wêreld van werk, opleiding en beroepsontwikkeling. Dit is ook baie veiliger om te gebruik as ander KI-hulpmiddels.
Aanlyn Regshulp – regsadvies altyd binne bereik
Solidariteit-aanlyn bied nou ook Aanlyn regshulp aan, ʼn KI-assistent wat gebruikers help om vinniger antwoorde op algemene werkverwante en arbeidsregsvrae te kry. Of dit nou gaan oor diensvoorwaardes, dissiplinêre prosesse, verlof, kontrakte of ander werkplekverwante kwessies, Aanlyn regshulp maak basiese regskennis meer toeganklik. Die hulpmiddel dien as ʼn eerste vertrekpunt vir gebruikers wat leiding soek en help om mense beter in te lig oor hul regte en verantwoordelikhede in die werkplek.
Benewens hierdie nuwe hulpmiddels beskik Solidariteit-aanlyn nou ook oor ʼn sosiale ruimte waar gebruikers foto’s, ervarings en prestasies kan deel, gesprekke kan voer en nog sterker bande binne die gemeenskap kan bou.
Slegs die begin
Die krag van Solidariteit-aanlyn lê in die mense wat deel vorm daarvan. Elke profiel verteenwoordig iemand wat bereid is om te leer, te groei, te bou en ander te ondersteun.
Met meer as 160 000 profielregistrasies is hierdie mylpaal ’n bewys dat daar ’n sterk behoefte bestaan aan ’n ruimte waar mense met gedeelde waardes mekaar kan vind, ondersteun en versterk. Dit is ook ’n herinnering dat die beste oplossings dikwels uit gemeenskappe self kom.
En hierdie is nog net die begin.
Terwyl Solidariteit-aanlyn aanhou groei en nuwe funksionaliteite, geleenthede en hulpbronne ontwikkel, bly die doel dieselfde: om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms te help bou vir elke persoon wat deel van hierdie gemeenskap is.
Meer as 160 000 mense is reeds deel van die grootste Afrikaanse aanlyn gemeenskap. Is jy een van hulle? Skep vandag nog jóú gratis profiel – klik hier.