Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Staat wil kriptogeld onteien, publiek se deelname noodsaaklik
Solidariteit het kommentaar ingedien op die Nasionale Tesourie se voorgestelde regulasies oor goud en kriptogeld, soos vervat in die konsepkapitaalvloei-bestuursregulasies. Sien die kommentaar hier.
Die voorgestelde regulasies vereis onder meer dat alle kriptogeld aan die staat verklaar moet word. Versuim om dit te doen, of indien die staat van mening is dat die kriptogeld op ʼn onbehoorlike of onverklaarbare wyse bekom is, kan daartoe lei dat ʼn persoon strafregtelik vervolg word en dat al die betrokke bates aan die staat verbeur word.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is hierdie voorgestelde uitbreiding van staatsbeheer oor kriptogeld uit voeling met die werklikhede van die hedendaagse ekonomie.
“Kriptogeld is deel van mense se beleggingsportefeuljes en word toenemend gebruik om veral internasionale transaksies vinnig en goedkoop te doen. Dit maak nie sin om in die pad daarvan te staan nie,” sê hy.
Du Buisson wys daarop dat Suid-Afrika reeds oor uitgebreide wetgewing beskik om bedrog, geldwassery en ander finansiële misdrywe te bekamp.
“Hierdie voorgestelde regulasies skep byna die indruk dat slegs kriminele van kriptogeld gebruik maak.
“In die proses wil die Tesourie Suid-Afrika se aantreklikheid as beleggingsbestemming verder aftakel, in ruil vir beskermingsmaatreëls wat reeds in plek is,” sê hy.
Volgens Du Buisson lê die kern van die probleem in Suid-Afrika se voortgesette toepassing van valutabeheer en kapitaalvloeibeperkings.
“Baie potensiële beleggers kyk verby Suid-Afrika omdat hulle geen waarborg het om hul opbrengs uit die land te neem nie,” sê hy.
Du Buisson meen dit is tyd om hierdie beheermaatreëls ingrypend te hersien en uiteindelik af te skaf.
Solidariteit moedig die publiek aan om aan die openbare deelnameproses deel te neem en hul kommentaar oor die voorgestelde regulasies vóór 30 Junie 2026 by die Nasionale Tesourie in te dien deur ʼn e-pos te stuur aan commentdraftregulations@treasury.gov.za en commentdraftlegislation@treasury.gov.za.
“Beleidsveranderinge met sulke verreikende gevolge vir belegging, eiendomsreg en ekonomiese vryheid behoort aan deeglike openbare debat en insette onderwerp te word,” sluit hy af.