Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Die ondergang van die 40 se bedrieglike brief
Pieter Jordaan
ʼn Ope brief van ʼn groep Afrikaanse aktiviste het die afgelope weke vir groot omstredenheid en ontsteltenis gesorg.
Die brief getiteld “Nie in ons naam nie” is ywerig deur al wat ʼn nuusblad is, geplaas. Die inhoud van hierdie “progressiewe” verklaring van meer as 40 ondertekenaars – onder wie Piet Croucamp en Max du Preez – is binne oomblikke deur die ANC geloof.
Die ANC het dit beskou as ʼn bewys dat talle Afrikaners die huidige koers wat Suid-Afrika onder ʼn ANC-geleide regering inslaan, wél ondersteun.
Daarbenewens is Solidariteit en AfriForum deur die 40 uitgesonder as ʼn stem wat nie namens Afrikaners praat nie.
Toe dit egter uitkom dat ʼn senior staatsamptenaar glo by die skryf van die brief betrokke was, was daar min wegkruipplek.
Walgooi en verskonings het al hoe moeiliker geraak, al het sommige van die “gesamentlike” briefskrywers sekerlik gewens die stof wil tog net gaan lê.
Hier is enkele van die reaksies op dié omstrede brief die afgelope paar dae:
Dirk Hermann: “Beste Max, niemand sê dat jou standpunt ʼn regeringsprojek is nie. Die kwessie gaan oor die brief. Betroubare inligting wat aan Solidariteit en AfriForum gestuur is, dui daarop dat Karen Burger nie net vir Dirco werk nie, maar waarskynlik vir Staatsveiligheid gewerk het en moontlik steeds daar betrokke is. Sy het gehelp om die brief op te stel, maar het dit self nie onderteken nie. Dit blyk dus dat daar ʼn element van misbruik van staatsmag in hierdie saak betrokke was.” – X-plasing
Connie Mulder: “Skielik is hierdie mense Afrikaners. Geleentheidsafrikaners. As hulle geskryf het wit Suid-Afrikaners wat bekommerd is, was dit ʼn ander tipe brief en het dit nie naastenby die opslae veroorsaak wat dit het nie.” – Maroela Media
Flip Buys: “Die onderIiggende temas van die ope brief sluit ten nouste aan by die ANC se propaganda dat Solidariteit en AfriForum ‘misinformasie’ aan Republikeinse leiers in Washington versprei het. Die ANC kon nog geen bewyse daarvoor verskaf nie.”
Koos Malan: “Maar werklik, hul brief is van uitsonderlik swak gehalte. Dit is onoortuigend, verwarrend, speel onbeholpe in die hande van die land se ergste verwoesters, die ANC en die EFF, en is moreel bedenklik. Die brief is oplaas sonderlinge politieke brouwerk.” – Netwerk24
Jaco Kleynhans: “Ek dink as jy gaan ontleed wie hierdie mense is wat hierdie brief onderteken het dan is dit almal mense wat uit ʼn uiters bevoorregte posisie kom … Dis mense wat baie min geraak word deur die rassewette vandag in Suid-Afrika. Hulle is nie die kleinsakeondernemers wat sukkel om die kontrak te kry weens rassediskriminasie nie. Dis nie die jong Afrikanerkind wat sukkel om in te kom om veeartsenykunde te studeer by die Universiteit van Pretoria en wat nie inkom nie omdat daar rassekwotas by daardie universiteit is. Hulle is nie daai mense nie en sit in geïsoleerde omgewings in uiterse bevoorregte posisies.” – Litnet
Connie Mulder: “Hulle (die briefskrywers) noem hulle (Solidariteit en AfriForum) op die naam en noem Trump se vlugtelingeprogram wat vreemd is. Solidariteit en AfriForum wil hê Afrikaners moet hier bly.” – Maroela Media
Dirk Hermann: “Een ding wat ek by die woordvoerders van die 40 hoor, is dat hulle nie van die vorige bedeling kan ontsnap nie. Alles word steeds beoordeel aan die hand van ou KP/NP-politiek, die AWB en apartheid. Hulle sukkel om nuwe idees vir die nuwe bedeling te ontwikkel of selfs om dit raak te sien. Die Solidariteit Beweging is juis ’n instelling wat ’n ná-’94-antwoord ontwikkel het. Die ons-sal-self-idee is ’n antwoord anderkant die staat, iets totaal anders. Die werklikheid ná 1994, die korrupte en nuttelose regering, en die demografiese omwentelings vra vir ‘self’ antwoorde. Dis ’n ander bedeling.”
Flip Buys: “Dit sal nie die land help as daar geheime projekte geloods word om Solidariteit en AfriForum verdag te maak nie, selfs nie deur Afrikaanse Linkses onwetend daarby te betrek nie. Hierdie Linkses val ons al jare lank oor enige iets aan, en het nog nooit verskoning gevra nadat ons uiteindelik reg bewys is nie.” – Maroela Media
Connie Mulder: “Dit (die brief) noem nie die ANC en korrupsie een enkele keer nie. Dit verwys na probleme in die land as misdaad, ongelykheid en die nalatenskap van apartheid. Daai is Dirco (Departement van Internasionale Betrekkinge) wat praat.”
Dirk Hermann: “Die paradoks is dat dit nie die Solidariteit Beweging is wat aan ou idees vasklou nie, maar húlle (die briefskrywers). Alles word beoordeel binne ’n raamwerk uit ’n tyd toe húlle op hul politieke hoogtepunte was. Dis asof iets van tyd vasgevries het. Die wêreld het aanbeweeg; ons het aangepas en hulle het agtergebly. Hulle het nie die woordeskat om ons nuwe Beweging te beskryf nie.”
Flip Buys: “Hulle (die briefskrywers) moes hulself ook nooit laat misbruik het om ANC beleidsrigtings soos rassewette goed te praat nie. Daarom moet hulle nie kwaad word as talle mense hulle as ‘nuttige idiote bestempel nie’ – Lenin se term vir meelopers.” – Maroela Media
Koos Malan: “As burgers van postapartheid-Suid-Afrika, sê die briefskrywers is hulle verbind tot die opbou van die land. Dit is presies wat Solidariteit en AfriForum by uitnemendheid doen. Daar is geen stryd met hulle daaroor aan te knoop nie. Die briefskrywers is hulle eerder dank verskuldig.”