Foto Krediet: Gemini
Gekopieër
ANC kan SA-deelname aan Agoa finaal ruïneer – Solidariteit Beweging
Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het vandag se aankondiging deur die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, dat ’n “massa-optog teen die VSA” vir 21 Maart beplan word, skerp veroordeel.
Hierdie aankondiging, tesame met oordrewe uitsprake deur Mbalula dat die VSA Suid-Afrika aanval en isoleer, word deur die Beweging verwerp.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, kom Mbalula se aankondiging op ’n kritieke tyd, met die Amerikaanse Senaat wat binnekort oor finale goedkeuring van die verlenging van Agoa moet stem en die Withuis wat dan moet bepaal watter lande in Afrika suid van die Sahara daarvoor kwalifiseer.
“Suid-Afrika het reeds verlede jaar honderde duisende werksverliese gely omdat Agoa nie verleng is nie, asook weens Amerikaanse tariewe. Mbalula en die ANC se uitsprake en optrede is ekonomiese selfmoord in ’n tyd waarin ons land elke moontlike uitvoermark nodig het.”
Volgens Buys probeer Solidariteit en AfriForum op grondvlak om werkers se werk te beskerm en gemeenskappe met ekonomiese inisiatiewe te bemagtig, terwyl die ANC duidelik sy bes doen om die verhouding met die VSA verder te versuur. In sektore soos motorvervaardiging, tekstielvervaardiging, die chemiese bedryf en die landboubedryf sal ’n finale uitsluiting van Suid-Afrika uit Agoa tot nóg werksverliese lei.
Mbalula se aankondiging van ’n anti-Amerikaanse optog kom op ’n tyd waar onderhandelinge tussen die twee lande se regerings ’n kritieke punt bereik het.
“Ons eie gesprekke met die Amerikaanse regering vorder juis goed en daar is ’n sterk wil by die Trump-administrasie om ’n handelsooreenkoms met Suid-Afrika te sluit, maar daar is ook ’n groeiende gevoel in Washington dat Suid-Afrika geopolities kant kies teen die VSA en juis openlik anti-Amerikaans begin optree. Mbalula se gekke uitsprake vandag bevestig hierdie vrese wat kongreslede die afgelope paar weke teenoor ons geopper het.”
Die bewerings wat Mbalula vandag gemaak het, volg skaars twee weke ná die omstrede vlootoefeninge aan die Suid-Afrikaanse kus waarby Iran betrokke was.
“Enige moontlikheid van ’n deurbraak word bykans onmoontlik gemaak deur die SA-regering se uitdagende houding jeens die VSA. Die regering en die ANC se politieke speletjies het gevolge vir gewone mense op die grond. Wat Mbalula doen, is om sy Suid-Afrikaanse partypolitiek in ’n geopolitieke nagmerrie vir Suid-Afrika te omskep.”
Die Solidariteit Beweging se onlangse beroep op pres. Cyril Ramaphosa was juis om ’n meer genuanseerde posisie teenoor die VSA in te neem.
“Ons is steeds in gesprek met die regering oor voorstelle in hierdie verband. Positiewe terugvoer is ook vanuit die VSA ontvang oor skrywes aan president Trump en die Amerikaanse Senaat, maar enige gunstige besluit oor handel met Suid-Afrika sal daarvan afhang of anti-Amerikaanse uitsprake gestaak word en daar na ’n onverbonde buitelandse beleid teruggekeer word. Dit lyk egter of die ANC en Mbalula juis verhoudinge met die VSA finaal wil verongeluk.”