loading
avatar
Artikels
16 uur gelede
werfnet-goeie-mense-goeie-werk

Foto Krediet: Solidariteit

WerfNet: Goeie mense, goeie werk!

Deur Kyla-Ann du Toit

Om die regte werk te vind, óf die regte persoon aan te stel, kan ʼn lang en ingewikkelde proses wees. Tussen honderde CV’s, onderhoude en agtergrondkontroles raak dit maklik oorweldigend. Dit is presies waar WerfNet ʼn oplossing bied.

WerfNet, ʼn nuwe gespesialiseerde werwingsagentskap wat deel van die Solidariteit Beweging is, is ʼn kenner op die gebied van werksoek en -plasing en streef daarna om sekerheid en gehalte aan beide werkgewers en werknemers te bied. Hulle fokus daarop om werkgewers met die regte kandidate te verbind en werksoekers te help om ideale werkgeleenthede te vind.

Volgens Chanelle Horn, direkteur van WerfNet, is dit belangrik om te verstaan dat WerfNet baie meer doen as om net poste aanlyn te plaas.

“Ons bestuur vir ons kliënte, wat ondernemings is wat nuwe personeel wil aanstel, die hele werwingsproses – van kandidate opspoor en onderhoude voer tot agtergrondkontroles en aanbodsonderhandelinge. WerfNet het toegang tot verskeie werksoekplatforms en soek aktief na die regte kandidate vir ons kliënte, nie net in terme van posbeskrywing nie, maar ook maatskappykultuur.”

ʼn Fokus op die Afrikaanse gemeenskap

WerfNet speel ook ʼn unieke rol deur spesifiek op die Afrikaanse gemeenskap te fokus.

“Ons het ʼn groot tekort aan Afrikaanse talent in die mark geïdentifiseer,” sê Horn. “Die Afrikaanse gemeenskap word deur baie ondernemingseienaars ervaar as ʼn mense wat hart en siel in hul werk sit, en wat gereeld goed gekwalifiseerd is of oor waardevolle ervaring beskik. Omdat soveel Afrikaners emigreer, laat dit ʼn leemte vir baie ondernemings.”

Volgens Dané Visser, ook ʼn direkteur van WerfNet, het hierdie fokus oor tyd natuurlik ontwikkel.

“Kultuur en samehorigheid is vir ons nog altyd belangrik, en dit het natuurlik oorgespoel in die soort kliënte en kandidate waarmee ons werk. Met tyd het ons gesien dat baie Afrikaners ʼn sterk behoefte aan ʼn goeie werkomgewing het, en ons het dit vinnig verstaan.”

Meer as net CV’s

Vir WerfNet gaan werwing nie oor die bymekaarmaak van honderde CV’s nie, maar oor gehalte en die regte pasmaat tussen kandidaat en onderneming.

“Ons fokus op kwaliteit bo kwantiteit,” verduidelik Visser. “In plaas daarvan om ʼn groot aantal CV’s voor te lê, gee ons eerder ʼn goedgekeurde lys van drie tot vier kandidate wat werklik met die rol en werkplekkultuur belyn is. Dit maak die proses vinniger en makliker vir die kliënt.”

Hierdie benadering help ook werksoekers deur ʼn dikwels stresvolle proses.

“Vir ons by WerfNet is dit belangrik om vir werksoekers goeie werk te kry,” sê Horn. “Ons help kandidate deur hul werksoekproses – of dit nou is om wenke vir onderhoude te gee of om duidelikheid te bied wanneer hulle besluite moet neem.”

Visser voeg by dat die uiteindelike doel veel groter is as net ʼn nuwe werk.

“Vir ons gaan dit oor lewensgehalte. Ons fokus daarop om geleenthede te bied waar mense veilig voel, kan groei en deel kan wees van ʼn gesonde werkomgewing.”

ʼn Span wat nie maklik opgee nie

Agter WerfNet is ʼn span wat gedrewe is om resultate te lewer.

“Die span agter WerfNet is ongelooflik hardwerkend,” sê Horn. “Ons is lewendig en energiek. Hierdie span verstaan mense en het uithouvermoë wat skrik vir niks.”

Visser stem saam: “Die WerfNet-span is jonk, energiek en baie gedrewe. Hulle gee nie maklik op nie en sal aanhou werk totdat die kliënt tevrede is.”

WerfNet se doel is dus eenvoudig: om ʼn betroubare vennoot te wees wat werkgewers en werksoekers bymekaar bring, en sodoende te help bou aan sterker ondernemings en ʼn sterker gemeenskap.

Solidariteit werk saam met WerfNet om die Afrikaanse gemeenskap se toegang tot gehaltewerk te versterk. Deur hierdie vennootskap word werksoekers en werkgewers met mekaar verbind op ʼn wyse wat nie net poste vul nie, maar ook help om volhoubare loopbane en sterk ondernemings te bou. Vir Solidariteit is dit deel van ʼn groter doel: om mense te help om in hul werk, beroep en gemeenskap te floreer.

Besoek www.werfnet.co.zavir meer inligting, of om vandag nog met jou werksoek- of werwingsproses te begin.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel