Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die opkoms van die gig-ekonomie
Deur René Brown
Die “gig”-ekonomie verwys na ʼn arbeidsmark wat bestaan uit kontrak-, vryskut- en tydelike werk, in teenstelling met permanente of voltydse werk. Die term “gig” is aan die vermaaklikheidsbedryf ontleen en verwys na ʼn werksgeleentheid met ʼn kort of gespesifiseerde tydsduur.
Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) berig dat indiensneming in die formele sektor gedurende die laaste kwartaal van 2023 met 128 000 afgeneem het, terwyl indiensneming in die informele sektor, wat die “gig”-ekonomie insluit, gedurende dieselfde tydperk met 124 000 toegeneem het.
Uitwerking op die arbeidsmark in die geheel
Gevorderde digitale kommunikasietegnologie stel werkgewers en werknemers wêreldwyd in staat om met mekaar te kommunikeer, wat dit dus vir die “gig”-ekonomie, ook genoem die platform-ekonomie, moontlik maak om te bly groei. Die “gig”-ekonomie is wel ʼn tweesnydende swaard, met voor- en nadele vir beide werknemers en werkgewers, en het gevolglik positiewe sowel as negatiewe uitwerkings op die arbeidsmark in die geheel:
- • Dit bied werksgeleenthede – wat andersins nie toeganklik sou wees nie – aan werknemers, terwyl werkgewers die voordeel het om toegang te hê tot werknemers met die beste vaardighede sonder beperkings ten opsigte van ligging.
- • Die “gig”-ekonomie bied ʼn meer buigsame en aanpasbare werkswyse met meer vryheid vir werknemers, alhoewel dit ten koste is van tradisionele werksvoordele, soos toegang tot ʼn werkloosheidsfonds, pensioenfonds, betaalde verlof en die sekerheid van ʼn vaste maandelikse inkomste.
- • Uit die aard van die saak verkry die werkgewer op die lang termyn arbeid teen ʼn laer koste, maar gee die bestuur en kontrole prys wat hulle andersins oor permanente werknemers kan uitoefen.
- • Aangesien daar soms geen formele dienskontrak vir vryskut- en tydelike werkers ter sprake is nie, kan dit lei tot werksomstandighede wat nie aan regulasies volgens die arbeidswetgewing voldoen nie. Kontrakwerkers wat ʼn vastetermyndienskontrak onderteken het, word wel ten volle deur die arbeidswetgewing beskerm.
- • Daarteenoor word vryskut- en kontrakwerkers wat hulle eie ure bepaal en fakture indien nadat hul werk voltooi is, nie deur die arbeidswetgewing beskerm nie.
Wenke vir jong werkendes in die ‘gig’-ekonomie
Ten spyte van sekere uitdagings, is dit moontlik om ʼn suksesvolle en lonende loopbaan vir jouself as ʼn kontrakteur, vryskutwerker of kontrakwerker uit te kerf. Dit is vir elke individu om te besluit of die voordele, soos die vryheid om jou eie ure en tariewe te bepaal, meer gewig dra as die onsekerheid daarvan om nie elke maand dieselfde vaste inkomste te verdien nie. Hier is ʼn paar topwenke om ʼn sukses van jou loopbaan in die “gig”-ekonomie te maak:
- • Verseker dat die omvang en tydsduur van jou dienste sowel as die ooreenstemmende vergoeding vooraf op skrif gestel is.
- • Skep vir jouself ʼn aanlyn teenwoordigheid waar jou vaardighede en ondervinding ten toon gestel kan word. Platforms soos Solidariteit, LinkedIn, Upwork, Rizegigs, Indeed en Jobvine is uitstekende platforms vir hierdie doeleinde wat vryskutwerkers en werkgewers met mekaar verbind.
- • Voortgesette leer is noodsaaklik om jou kennis te verbreed en vaardighede te verbeter. Voltooi kortkursusse wat spesifiek vir jou bedryf ontwikkel is danksy Solidariteit se aanbod vir voortgesette leer.
- • Deur ʼn professionele netwerk van mense in jou bedryf te bou, kan jy eindelose geleenthede ontsluit deur werk na mekaar te verwys. Solidariteit se beroepsnetwerke is aanlyn gemeenskappe waar jy kan tuisvoel in jou beroep en met ander kundiges in jou beroep kan kennis maak.
- • ʼn Mentorskap is altyd ʼn uitstekende manier om uit die kennis en ondervinding van ervare kundiges te leer. As ʼn vryskut- of kontrakwerker kan dit veral waardevol wees om ʼn mentor te nader, aangesien dit isolerend kan wees as jy nie saam met kollegas in ʼn tradisionele kantoor-opset werk nie. Danksy Solidariteit se mentorskapprogram kan jy ʼn mentor vind wat jou op jou loopbaanpad kan vergesel. Hierdie program fokus daarop om jou te lei, te ontwikkel en te ondersteun.
Registreer jou gratis profiel en raak deel van jou grootste Afrikaanse aanlyn werksgemeenskap! Word vandag nog ʼn lid van Solidariteit om jou voordele te ontsluit.