loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
die-stelsel-vrot-van-bo-arrestasies-in-departement-wys-waarom-ngv-nie-kan-werknie

Foto Krediet: ChatGPT

‘Die stelsel vrot van bo’ – arrestasies in departement wys waarom NGV nie kan werk nie

Deur Kyla-Ann du Toit

Die onlangse inhegtenisneming van drie senior amptenare van die nasionale departement van gesondheid weens beweerde bedrog en diefstal het weer ernstige vrae laat ontstaan oor die staat se vermoë om die openbare gesondheidstelsel doeltreffend te bestuur.

Dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van gesondheid, Phineas Phaswa Mamogale, finansiële hoof van die departement, en dr. Malixole Mahlathi, waarnemende adjunk-direkteur-generaal, is in hegtenis geneem in verband met beweerde onreëlmatige betalings van meer as R1 miljoen aan diensverskaffers.

Hierdie gebeure plaas weer die kollig op die bestuursuitdagings binne die departement, wat terselfdertyd die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wil dryf.

Volgens Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se mediese sektor, is dit veral kommerwekkend dat hierdie soort voorvalle by ʼn departement plaasvind wat verantwoordelik is vir een van die belangrikste sektore in die land.

“Wat hartseer is, is dat dit amper normaal geword het; mense verwag korrupsie, wanadministrasie en bedrog. ʼn Mens sou hoop dat die mense wat in beheer is van só ʼn belangrike sektor pasiëntsorg eerste sou stel. Dit is egter nie die geval nie. Terwyl hulle privaat mediese sorg geniet, moet gewone Suid-Afrikaners die gevolge van húlle swak besluite dra,” sê Marx.

Volgens Marx illustreer dit presies waarom die NGV ernstige risiko’s inhou.

“Hierdie geval is net nóg ʼn bewys dat die NGV nie kan werk nie. As jy nie eerbare mense aan die stuur van een van die belangrikste sektore in ʼn land het nie, kan die uitkomste slegs nadelig wees vir almal. As mediese dienste in ʼn land faal, faal ʼn land.”

Hy beklemtoon egter dat die probleem nie by mediese personeel self lê nie.

“Ons het baie dokters en ander gesondheidswerkers in die openbare sektor wat werklik dienste wíl lewer. Maar hulle het dikwels nie toegang tot die nodige toerusting of fasiliteite om hul werk behoorlik te doen nie. Die mense op grondvlak wíl werk en wíl help, maar die stelsel vrot van bo af, wat dit vir hulle onmoontlik maak.”

Marx waarsku dat die voorstel om gesondheidsorg verder te nasionaliseer nuwe probleme gaan skep.

“Die staat se antwoord is telkens dat gesondheidsorg genasionaliseer moet word omdat dit glo al die probleme gaan oplos. In werklikheid gaan dit slegs groter toegang tot fondse skep vir ʼn stelsel wat reeds sukkel met korrupsie en wanadministrasie.”

Die jongste gebeure by die departement van gesondheid beklemtoon wéér ʼn stelsel wat reeds met wanadministrasie en korrupsie sukkel, sowel as ʼn regering wat nie die vermoë het om iets soos die NGV suksesvol te implementeer nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel