Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
R74 miljoen vir NGV-hofstryd wek nuwe vrae oor prioriteite in gesondheidsbeleid
Die regering se besluit om sowat R74 miljoen aan regskoste te bestee om die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te verdedig, het nuwe kommer laat ontstaan oor die prioriteite in Suid-Afrika se gesondheidsbeleid.
Hierdie uitgawe kom te midde van ʼn toenemende aantal regsuitdagings teen die NGV, met verskeie organisasies – insluitend Solidariteit – wat die wetgewing op grond van grondwetlike en praktiese probleme betwis. Intussen gaan die staat voort om miljarde rande aan voorbereidende werk te bestee, ondanks die feit dat implementering tans deur hofprosesse vertraag word.
Volgens Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die mediese sektor by Solidariteit, lê die kernprobleem nie in die strewe na beter gesondheidsorg nie, maar in die wyse waarop die NGV beoog om dit te bereik. Die voorgestelde model sentraliseer gesondheidsfinansiering in die staat, wat ernstige risiko’s vir doeltreffendheid, gehalte en korrupsiebeheer inhou.
“Die staat kan al hierdie geld bespaar en dit gebruik waar daar werklik behoefte is, soos om bestaande openbare gesondheidsfasiliteite te verbeter, personeeltekorte aan te spreek en basiese dienslewering te herstel,” sê Marx.
Solidariteit waarsku dat die koste van die NGV reeds begin opstapel nog voordat enige tasbare verbeterings in dienslewering sigbaar is. Die feit dat miljoene rande nou aan litigasie bestee word, terwyl openbare hospitale steeds onder druk verkeer, beklemtoon die gaping tussen beleid en die werklikheid.
Die NGV beoog om die staat die enigste koper van gesondheidsdienste te maak, met verreikende gevolge vir mediese fondse en privaat praktyke. Hierdie model word reeds deur verskeie rolspelers bevraagteken, veral ten opsigte van finansiële volhoubaarheid en die impak op belastingbetalers.
Die miljoene wat nou aan litigasie bestee word, staan in skrille kontras met die werklikheid in baie openbare gesondheidsfasiliteite. Marx meen dat werklike hervorming eerder op praktiese verbeterings binne die bestaande stelsel moet fokus, eerder as op ʼn duur en gesentraliseerde model.
Terwyl die hofstryd voortduur, bly die groter vraag of Suid-Afrika ʼn gesondheidsmodel kan bekostig wat reeds miljarde kos om te implementeer – en nou nóg miljoene om te verdedig.