Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit stuur aanmaning ná president se verwarrende uitsprake oor NGV-implementering
Solidariteit het ʼn aanmaning aan president Cyril Ramaphosa en die regspanne van die minister van gesondheid gerig om duidelikheid te gee oor die regering se voornemens rakende die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).
Sien die skrywe hier.
Dit volg nadat die president onlangs aangedui het die implementering van die NGV gaan onverpoosd voort, ten spyte van ʼn onlangse hofuitspraak wat sekere aspekte daarvan verbied.
Volgens Solidariteit skep hierdie misleidende uitsprake groot verwarring onder die publiek en ondermyn dit vertroue in die regering se verbintenis tot die oppergesag van die reg.
“Daar is natuurlik sekere NGV-verwante projekte wat nie deur die uitspraak geraak word nie. Dit sluit projekte in soos die opgradering van hospitale en klinieke, wat met of sonder NGV noodsaaklik is.
“As die president egter sê dat die uitspraak nie die tydlyn vir implementering sal beïnvloed nie, is dit kommerwekkend,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).
Volgens Solidariteit is dit veral kommerwekkend dat daar klaarblyklik ʼn verbintenis is om reeds mense as NGV-bevoordeeldes te begin registreer.
“Sou dit die geval wees, kom dit op direkte implementering neer en sal Solidariteit beslis moet ingryp,” waarsku Du Buisson.
Du Buisson sê verder Solidariteit is steeds van mening die NGV is nie ʼn werkbare oplossing vir Suid-Afrika se gesondheidsorgkrisis nie.
“Die NGV sal nooit realiseer nie. Ons probeer verhoed dat geld wat gesondheidsorg kan en moet verbeter, vermors word op onsinnige spandering in aanloop tot ʼn stelsel wat nooit sal realiseer nie. Suid-Afrika kan nie die NGV bekostig nie,” sluit hy af.