Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
4 uur gelede
solidariteit-ngv-kan-nie-voortgaan-nie

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit: NGV kán nie voortgaan nie! President se uitlatings verander nie hofbevel

Solidariteit sê president Cyril Ramaphosa se uitlatings tydens gister se parlementêre vraag- en -antwoordsessie oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) skep die indruk dat die implementering van die NGV-wet voortgaan, terwyl dit volgens ’n onlangse hofbevel nie mag gebeur nie.

Die Pretoriase hooggeregshof het onlangs beslis dat die regering geen verdere implementerings- of ontwikkelingstappe met betrekking tot die NGV-wet mag neem totdat die Konstitusionele Hof uitspraak gelewer het in die hangende regsgedinge oor dié Wet nie. Die regering het ook onderneem dat geen bepalings van die Wet in werking gestel sal word voordat die hof uitspraak gelewer het nie.

Volgens Ramaphosa word daar egter reeds voorbereidingswerk gedoen vir die registrasie van pasiënte wat van die NGV gebruik gaan maak, asook vir die akkreditasie en kontraktering van gesondheidsdiensverskaffers. Solidariteit sê sy regspan sal hierdie uitlatings noukeurig bestudeer om te bepaal of sodanige stappe moontlik ’n oortreding van die hofbevel kan wees.

“Die president probeer die indruk skep dat die NGV reeds momentum het en dat implementering onafwendbaar is. Dit is eenvoudig nie die geval nie. Die posisie is duidelik: die NGV mag tans nie voortgaan nie,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).

Solidariteit wys daarop dat baie van die voorbeelde wat Ramaphosa as voorbereiding vir die NGV voorhou – soos die opknapping van hospitale, die bou van nuwe gesondheidsfasiliteite en die aanstelling van dokters – nie werklik met die implementering van ’n NGV-stelsel verband hou nie.

Du Buisson sê dit is misleidend om sulke basiese staatsfunksies skielik as NGV-aksies voor te hou.

“Daardie soort goed moet buitendien gedoen word, sonder enige sprake van ’n NGV. Dit sal natuurlik goed wees as dokters aangestel word, en hospitale gebou en onderhou word. Ongelukkig word dit ook vir baie jare al nie gedoen nie en verwaarloos.”

Volgens Du Buisson is die enigste element wat moontlik aan ’n NGV-skema gekoppel kan word die ontwikkeling van nuwe finansiële stelsels en rekordhouding.

“Selfs in verband daarmee is dit ondenkbaar dat so iets tot vandag toe nooit vir die bestaande openbare gesondheidsorgstelsel gedoen is nie.”

Solidariteit het ná die hofbevel ook ’n formele aanmaning aan die president, die Departement van Gesondheid, die Nasionale Tesourie en betrokke ministers gestuur waarin hulle gewaarsku word teen enige moontlike minagting van die hofbevel.

In hierdie aanmaning word dit uitdruklik gestel dat geen implementering, voorbereiding of begrotingstoewysings ten opsigte van die NGV nou mag plaasvind nie en dat enige optrede in stryd met die hofbevel tot verdere litigasie mag lei.

Du Buisson sê verder die president leef in ’n droomwêreld as hy dink die hofbevel gaan nie die NGV-tydlyn versteur nie.

“Die regering kan nie deur politieke retoriek of administratiewe maneuvers voortgaan met ’n stelsel wat tans deur ’n hofbevel gestuit is nie.”

Hy sê met die nodige steun sal Solidariteit se litigasie die NGV-ramp afweer en noem ook dat die stelsel buitendien onbekostigbaar en onuitvoerbaar is.

“Die NGV gaan nie realiseer nie.”

Solidariteit sê hy sal die situasie fyn monitor en sal nie huiwer om verdere regstappe te oorweeg indien die regering probeer om die hofbevel te omseil nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel