Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die toekoms van Afrikaans in die werkplek: ʼn Bedreiging of ʼn geleentheid?
Deur Reon Janse van Rensburg
Afrikaans is al vir dekades lank ʼn integrale deel van Suid-Afrika se werkplekke, skole en gemeenskappe. Vandag wonder ons nie meer of dit gaan oorleef nie, maar hoe ons as gemeenskap en organisasies soos Solidariteit die taal kan versterk en sy plek in die wêreld kan verseker. Daar is verskeie uitdagings – beleide soos die Bela-wet en die groeiende gebruik van Engels in sekere sektore skep druk – maar dit bied ook ʼn kans om daadwerklik op te tree en Afrikaans se rol in die werkplek verder te bou.
Volgens ʼn artikel op IOL het Solidariteit gewaarsku dat hierdie wet Afrikaanse onderrig kan ondermyn. Minder Afrikaanse skole beteken uiteindelik minder jong mense wat gemaklik in hul moedertaal kan studeer, werk en presteer.
Selfs in die regstelsel sien ons dieselfde tendense. Taalaktiviste het reeds aan Maroela Media gesê dat Engels al hoe meer die standaardtaal in Wes-Kaapse howe word. ʼn Skuif wat ander tale, ook Afrikaans, na die kantlyn druk. Wanneer Engels die enigste amptelike taal in die werkplek word, voel mense dat hul eie taal nie welkom of geldig is nie.
Maar om net van bedreigings te praat, doen nie reg aan die prentjie nie. Afrikaans bied ook groot geleenthede en dit is juis omdat gemeenskappe, instellings en organisasies soos Solidariteit nie hande gevou sit nie.
Solidariteit se rol
Solidariteit veg op verskeie fronte om Afrikaans se toekoms te beskerm. In die howe en deur openbare deelname het hulle sterk standpunt ingeneem teen die Bela-wet. Hulle argument is eenvoudig: om Afrikaanse skole en opleiding te beskerm, is nie om ander uit te sluit nie – dit is om te verseker dat moedertaalonderrig, wat internasionaal erken word as die beste manier om te leer, ook hier beskikbaar bly.
Dan is daar die praktiese werk: instellings soos Sol-Tech en Akademia, Bo-Karoo Opleiding en die Helpende Hand Opleidingsinstituut. Hier word jong mense in Afrikaans opgelei in ʼn aantal vakmanskappe en beroepe, sowel as in akademiese rigtings. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) asook Gimnasium Pretoria beywer hulself vir Afrikaanse onderrig. Só skep Solidariteit ʼn alternatiewe pad vir studente wat in hul eie taal wil leer en werk. Hierdie instellings lewer jong mense wat nie net vaardig is nie, maar ook trots is op hul taal.
Afrikaans in die werkplek
In die werkplek is Afrikaans steeds volop, van fabrieke tot boerderye, van ingenieursfirmas tot diensverskaffers. Engels mag dalk in sommige maatskappye oorheers, veral in groot korporatiewe omgewings, maar Solidariteit maak seker dat dit nie jou regte as werknemer beperk nie.
Afrikaans is meer as ʼn kombuistaal – dit is ʼn professionele werkstaal. Solidariteit se boodskap is duidelik: taalregte is werknemerregte. Deur jou taal te beskerm en te bevorder help hulle jou om jou vaardighede ten volle in jou moedertaal aan te wend, jou loopbaan te bou en trots te wees op wat jy doen. Saam staan Solidariteit en sy lede vas om Afrikaans lewendig en relevant in die werkplek te hou.
Elke keer as ʼn jong persoon in Afrikaans opgelei word, word ʼn stukkie van die toekoms verseker. Elke keer as ʼn werkgewer Afrikaans in hul kommunikasie behou, word die taal se posisie versterk. En elke keer as ʼn lid van die publiek hul stem dik maak oor onreg teenoor Afrikaans, wys dit dat die taal lewend en relevant bly.
Die vraag oor Afrikaans in die werkplek is dus nie óf dit sal oorleef nie, maar eerder hoe. Met organisasies soos Solidariteit, instellings soos Akademia en Sol-Tech, en ʼn gemeenskap wat trots is op hul taal, lê die antwoord daarin om bedreigings in geleenthede te omskep.
Die behoud van Afrikaans is nie ʼn probleem wat opgelos moet word nie – dit is ʼn bate wat ons moet bewaar.