Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die verdwynende begin: Hoe kunsmatige intelligensie (KI) die eerste hoofstuk van ʼn loopbaan herskryf
Deur Johan Steyn
ʼn Wêreld sonder beginpunte
Daar was ʼn tyd toe ʼn loopbaan met nederige take begin het – ʼn internskap, ʼn eerste kantoor, en ʼn mentor wat jou wys hoe dinge gedoen word. Vandag verdwyn daardie eerste stappe egter stilweg. Kunsmatige intelligensie (KI) en outomatisering neem toenemend die eenvoudige, herhalende take oor wat vroeër vir jong werknemers bedoel was.
Volgens Stanford se Digital Economy Lab (2025) het werkgeleenthede vir 22- tot 25-jariges in beroepe wat kwesbaar is vir outomatisering, sedert 2022 met 13% gedaal. Intussen verrig masjiene dieselfde werk vinniger, goedkoper en sonder die behoefte aan leiding of opleiding. Die sogenaamde “eerste tree” van leer en ervaring in ʼn loopbaan word vervang deur algoritmes wat nooit moeg raak nie.
Die universiteitsbelofte word breekbaar
Universiteite het vir lank ʼn eenvoudige belofte gemaak: Kry jou graad en die arbeidsmark sal vir jou wag. Dié belofte begin egter verbrokkel. In sektore soos regte, rekeningkunde en besigheidsadvies is innemingsprogramme vir gegradueerdes besig om te krimp namate KI die dokumentanalise, datavoorbereiding en verslagdoening oorneem – take wat voorheen aan juniors toevertrou is.
Selfs reuse soos PwC UK het hul 2025-inname van gegradueerdes verminder en verklaar dat prosesse en KI nou baie van dié soort werk hanteer. Die Financial Times (2025) en Business Day South Africa berig dat al hoe meer gegradueerdes beweer dat hul loopbaan by ʼn dooie punt begin.
Mikro-kwalifikasies, digitale vaardighede en KI-geletterdheid raak nou belangriker as akademiese prestasie. ʼn Graad bly waardevol, maar dit is nie meer voldoende op sy eie nie.
Waar eindig die leerbrug?
Hierdie skuif is wêreldwyd, maar dit tref Afrika die hardste. Die Wêreldbank se Digital Africa: Pathways for Youth Employment (2025) waarsku dat Afrika se jeugbevolking hierdie dekade met 40% sal groei, terwyl formele werkskepping agterbly. Die Internasionale Arbeidsorganisasie voorspel dat 30% van roetine witboordjietake teen 2030 geoutomatiseer sal wees.
Baie jong mense reageer hierop deur hul eie paaie te bou: Hulle begin kleinsake, werk as onafhanklike kontrakteurs of kies beroepsopleiding bo tradisionele universiteitsroetes.
Die Brookings Institution (2025) wys dat Afrika se “gig-economy” vinniger as dié van enige ander streek s’n groei, aangedryf deur jeugwerkloosheid en breër tegnologiese toegang. Hierdie aanpasbaarheid is bewonderenswaardig, maar dit bevestig ook dat die tradisionele “eerste werk” vinnig aan die verdwyn is.
Sol-Tech: ʼn Nuwe model vir vaardigheidsopleiding
Hier speel instellings, soos Sol-Tech, ʼn deurslaggewende rol. Ten spyte van die uitdagings wat baie naskoolse tegniese opleidingsinstansies met die vinnige tempo van tegnologiese ontwikkeling ervaar, integreer Sol-Tech tegnologie, datavaardighede en KI-begrip doelbewus in ambags- en tegniese opleiding.
Programmering, outomatisering en die integrasie van elektroniese tegnologie vorm reeds deel van die kern van beide die onderrig- en leerproses, sowel as van die arsenaal kennis en kundigheid waarmee studente die arbeidsmark betree. Dit verseker dat indiensneembaarheid proaktief tred hou met die vereistes en verwagtinge van die vierde én vyfde nywerheidsrevolusies.
In ʼn arbeidsmark waar tradisionele intreeposte verdwyn, bied sulke instellings realistiese en onmiddellike toegang tot werk, en ʼn manier om die basis van die arbeidsdriehoek te herbou.
Die nuwe leerling
Ondernemings begin ook besef dat nuwe werkmodelle nodig is. Die McKinsey-verslag, Superagency in the Workplace (2025) toon dat minder as 1% van ondernemings wat KI implementeer, werklik gevorderd is in hul mens-en-masjien-integrasie. Die uitdaging lê nie in tegnologie nie, maar in die mense.
Die LinkedIn Workplace Learning Report 2025 wys dat opleidingsbegrotings wêreldwyd na digitale vaardighede, KI-opleiding en interne mobiliteit verskuif. Volgens Microsoft se Skills for Jobs Africa-inisiatief (2025) sal een miljoen Suid-Afrikaners in KI en datavaardighede opgelei word.
Die nuwe leerling leer dus nie meer om masjiene te vervang nie, maar hoe om hulle te lei.
Die menslike faktor
Ten spyte van KI se indrukwekkende vermoëns, bly die mees waardevolle vaardighede menslik. Die OECD Employment Outlook 2025 en die Wêreld- Ekonomiese Forumse Future of Jobs Report identifiseer kreatiwiteit, kritiese denke, empatie en etiese redenasie as die kern van toekomstige werksekerheid.
Masjiene kan bereken, maar nie oordeel nie; hulle kan inligting verwerk, maar nie betekenis skep nie. Die toekoms behoort aan dié wat weet hoe om tegnologie te bevraagteken, te interpreteer en te humaniseer.
ʼn Nuwe begin
Outomatisering beteken nie noodwendig die einde van menslike geleentheid nie – dit beteken ʼn nuwe begin.
Regerings moet beleide vestig wat digitale- én beroepsvaardighede in die kollig plaas. Universiteite moet projekgebaseerde onderrig en tegnologie-samewerking versterk. Ondernemings moet voortgesette leer as ʼn strategiese belegging beskou, nie bloot as ʼn uitgawe nie.
As ons die eerste tree op die loopbaanleer herbou met mense soos dié wat by Sol-Tech opgelei word en met instellings wat tegnologie met praktyk integreer, kan ons die volgende generasie nie net red nie, maar ook bemagtig.
Die wêreld van werk is besig om te verander. Die vraag is nie of jong mense gaan aanpas nie, maar of ons vir hulle ʼn plek gaan skep om te begin.
Solidariteit is jou vennoot in die werkplek. Die KI-revolusie verander hoe ons werkplekke lyk en funksioneer, maar dit is nie ʼn doodskoot vir werksekerheid of jou indiensneembaarheid nie. Danksy voortgesette leer bly loopbaandeure vir jou oop. Solidariteit-lede het gratis toegang tot nagenoeg 150 praktiese kursusse wat jou help om relevant in die werkplek te bly. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en leer jou toekoms oop!
Johan Steyn is al beskryf as “Afrika se voorste gedagte-leier in Kunsmatige Intelligensie.” As ʼn produktiewe skrywer, spreker en akademikus help hy gereeld organisasies om KI-tegnologie te verstaan en te implementeer. Hy dien tans as ʼn werkgroep-lid om aanbevelings te ontwikkel aan die regering vir ʼn nasionale KI-strategie in Suid-Afrika.
Hy kan gekontak word by: johan@aiforbusiness.net