Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die verwantskap tussen ervaring, ouderdom en bestuursvermoë
Deur Maryna Eksteen
Jy het al twintig jaar se ervaring. Jy ken die bedryf soos die palm van jou hand, en dan stap daar ʼn bestuurder in wat tien of 15 jaar jonger is as jy. Hoe hanteer jy dit? Dit kan ongemaklik voel, maar dit is ʼn algemene verskynsel in die moderne werkplek.
Werkplekke het vandag meer intergenerasie-spanne as ooit. Jy kry jong bestuurders wat vinnig die leer klim omdat hulle goed is met tegnologie en nuwe idees. Dan kry jy ervare werknemers wat wysheid en stabiliteit na die tafel bring. Albei groepe is nodig.
ʼn Jong bestuurder beteken dus nie dat jou ervaring minder werd is nie – dit beteken bloot dat die span se sterkpunte anders saamgestel word.
Navorsing ondersteun hierdie dinamiek. Volgens ʼn studie van ʼn Sweedse mynmaatskappy is daar geen groot verskille gevind in werktevredenheid, werklading of gesondheid tussen jonger bestuurders en ouer werknemers nie. Wat wel belangrik was, is nie die ouderdom nie, maar eerder die ervaringsvlak en die vermoë om veranderinge effektief te bestuur.
Moontlike spanningspunte
Dit is natuurlik dat spanning kan opduik:
- • Jy voel dalk jou ervaring word nie altyd erken nie.
- • Jy kan onseker wees oor hoe om jou bestuurder met respek te hanteer, terwyl jy weet jy het meer jare se werkagtergrond.
- • Die jong bestuurder kan soms huiwerig wees om op ʼn ouer werknemer se kennis staat te maak, of bang wees dat dit lyk asof hy of sy nie self die leiding kan neem nie.
- • Hulle trek dalk anders as jy aan – hoe moet jy nou werk met ʼn bestuurder wat wit tekkies saam met ʼn pak of rok dra?
Hoe hanteer jy dit?
- 1. Respek gaan beide kante toe. Jy hoef nie minderwaardig te voel nie, maar gee jou bestuurder die respek wat die posisie verg – dit bou vertroue.
- 2. Bied jou ervaring aan. Deel jou kennis as raad, maar nie as kritiek nie. Dit wys dat jy ʼn spanmaat is.
- 3. Leer by jou bestuurder. Jonger leiers bring vars idees, nuwe tegnologie en ander perspektiewe. Moenie dit as ʼn bedreiging beskou nie, maar eerder as ʼn kans om by te bly en nuwe dinge te leer.
- 4. Praat oop oor verwagtinge. Gesels vroegtydig oor jou rol en hoe julle mekaar se sterkpunte kan benut.
Solidariteit help jou met konflikhantering
Wanneer generasieverskille spanning veroorsaak, kan goeie konflikhantering die verskil maak. Solidariteit bied kursusse aan wat jou toerus om spanning professioneel te hanteer, beter te kommunikeer en jou rol in die span te versterk. Só kan jy onnodige misverstande vermy en help bou aan ʼn gesonde span, ongeag ouderdom. Klik hier om te leer hoe jy konflik beter kan bestuur.
Jou bestuurder se ouderdom bepaal nie jou waarde nie. Jy bring ervaring en karakter; hy of sy bring vars leierskap en nuwe idees. Saam is julle sterker. En as spanning opduik, is dit juis ʼn goeie geleentheid om jou konflikhanteringsvaardighede te slyp – iets wat jou nie net help in jou werk nie, maar in alle aspekte van jou lewe.