Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die vryskut-era: Hoekom entrepreneurs steeds ʼn tuiste by Solidariteit het
René van der Vyver
Die tradisionele werkplek is besig om vinnig te verander. Waar loopbaanpaaie voorheen duidelik binne die raamwerk van ʼn werkgewer-werknemer-verhouding afgebaken was, kies al hoe meer mense vandag om hul eie potjie te krap. Vir die entrepreneur, vryskutkonsultant en kleinsake-eienaar is die vryheid van selfwerksaamheid aanloklik, maar dit bring ook unieke uitdagings mee wat dikwels buite die bereik van konvensionele vakbondbeskerming val.
Solidariteit het egter lankal besef dat modernisering nie net oor tegnologie gaan nie, maar oor die aanpassing by die leefwêreld van sy lede. Die instelling het ontwikkel van ʼn tradisionele vakbond na ʼn omvattende netwerk wat waarde bied aan almal wat ekonomies aktief is, ongeag of hulle ʼn salaris ontvang of self fakture uitstuur.
ʼn Nuwe manier van netwerk
Vir die entrepreneur is isolasie dikwels een van die grootste struikelblokke. Solidariteit-aanlyn, wat ook as ʼn gebruikersvriendelike app beskikbaar is, dien as ʼn digitale bymekaarkomplek waar professionele persone mekaar kan vind en ondersteun. Deur beroepsnetwerke kry lede toegang tot relevante nuus, asook groepe waar idees uitgeruil en vrae gevra kan word. Dit skep ʼn omgewing waarin die entrepreneurs nie meer geïsoleerd werk nie, maar deel word van ʼn groter ekosisteem.
Belegging in vaardighede en groei
Een van die waardevolste bates vir enige selfwerksame individu is voortgesette leer. Solidariteit bied aan lede gratis toegang tot beroepspesifieke kursusse wat help om vaardighede skerp te hou en uit te bou. Vir entrepreneurs wat self mense in diens neem, is daar selfs hulpbronne beskikbaar oor personeelwelstand – ʼn kritieke aspek van volhoubare sakebestuur.
Daarbenewens bied die gesubsidieerde opleidingsvoordeel by instellings soos Akademia, Sol-Tech en die Wolkskool ʼn tasbare ekonomiese voordeel. Dit stel entrepreneurs in staat om hul eie kundigheid, of dié van hul kinders, teen ʼn bekostigbare tarief te ontwikkel. Wanneer ʼn onderneming groei en die span uitgebrei moet word, maak die werkfasiliteringstelsel dit maklik om vakante poste te adverteer en geskikte kandidate te bereik.
Beskerming wat verder as die kantoor strek
Alhoewel entrepreneurs nie noodwendig kollektiewe bedinging vir salarisse benodig nie, bly die risiko’s van die lewe dieselfde. Solidariteit bied gemoedsrus deur byvoordele wat dikwels deur entrepreneurs afgeskeep word weens kostes. Dit sluit onder meer in die gratis opstel en bewaring van testamente, omvattende begrafnisbystand vir kwalifiserende lede, en bevallingsbystand vir vroulike entrepreneurs wat finansiële verligting tydens ʼn nuwe toevoeging tot die gesin kan bied.
Oor die opkoms van jong entrepreneurs merk Rickus Botha, organiseerder van Solidariteit se Finansiesnetwerk, op: “Dit is verblydend en bemoedigend om te sien hoe jong Afrikaners, selfs van hul studentedae af, die inisiatief neem om hul eie paadjie uit te kerf. Hierdie entrepreneurs dink innoverend en beskik oor ʼn passie om nie net self te groei nie, maar ook geleenthede vir ander te skep. Deur by Solidariteit se Finansiesnetwerk in te skakel, kry hulle die unieke geleentheid om skouers te skuur met senior entrepreneurs wat dieselfde taal en waardes deel. Hierdie ‘elkeen-help-een’-benadering verseker dat waarde uit mentorskap en skakelgeleenthede geput word, wat weer die weg baan vir die jonger generasie om eendag self as mentors in die gemeenskap terug te ploeg.”
Selfs sonder die tradisionele beskerming teen onbillike ontslag, bly die kollektiewe krag van Solidariteit ʼn anker. Botha moedig entrepreneurs aan om deel te vorm van die netwerk: “Solidariteit se DNS is en bly die beskerming van werk – ongeag of jy ʼn werknemer of ʼn entrepreneur is. As beroepsnetwerk dien ons as ʼn kragtige waghond wat die hele beroep beskerm. Ons adviesrade hou ons voortdurend op hoogte van verwikkelinge in spesifieke sektore sodat ons proaktief kan optree. Vir die entrepreneur gaan lidmaatskap egter oor meer as net beskerming; die Finansiesnetwerk bied toegang tot ʼn beroepsgemeenskap waar beste praktyke uitgeruil word en daar doelgerig onder mekaar besigheid gedoen word om die hele gemeenskap te versterk.”
Uiteindelik gaan lidmaatskap vir entrepreneurs nie oor ʼn veiligheidsnet wanneer dinge met ʼn werkgewer skeefloop nie, maar oor ʼn vennootskap wat help om beide die onderneming en die individu na nuwe hoogtes te neem. In ʼn wêreld wat vinnig verander, is dit juis hierdie soort gemeenskapsgedrewe ondersteuning wat die verskil tussen oorlewing en volhoubare sukses maak.
Skep vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn en skakel in by jou beroepstuiste. Klik hier om jou profiel te registreer. Klik hier om meer te lees oor Solidariteit-lidmaatskap en die voordele daarvan.