
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Die Warriors is met ʼn kleurbal uitgeras
Die Warriors is hul uitspeelplek in die krieket-eendagreeks kwyt ná die rasskeidsregter die kleurkaart gespeel het. Dit weerspieël ʼn groter probleem: meriete tel minder as ras in Suid-Afrika. Rasverpligtinge kniehalter talent en benadeel sport, die ekonomie en werkskepping. Lees wat dr. Dirk Hermann hieroor te sê het.
Deur dr. Dirk Hermann
Die Warriors is hul uitspeelplek vir die eindstryd in die plaaslike krieket-eendagreeks kwyt.
Dit volg ná die rasskeidsregter sy vinger beslissend in die lug gesteek en hulle uitgegee het. Dié rasskeidsregter het weer die kleurkaart gespeel en hulle raskas toe gestuur. Die Warriors het glo hul rassom verkeerd gedoen. As jy nie reg ras nie, word jy vir ʼn ses uit die raspark geslaan.

Wat in sport gebeur, is ʼn weerspieëling van wat in die breër samelewing aangaan. Die werklikheid is dat Suid-Afrika vasgevang is in ʼn rasgedrewe denkraamwerk waar meriete minder tel as jou velkleur. Rasverpligtinge, transformasieteikens en rastellende aksie het ʼn stelsel geskep waar talent soms tweede viool teen ʼn politieke agenda speel.
Die harde werklikheid is dat hierdie ingesteldheid nie net sport benadeel nie, maar ook die ekonomie, werkskepping en uiteindelik mense se lewens. Wanneer ras bó prestasie gestel word, ly almal skade – of jy nou ʼn lid van ʼn krieketspan, ʼn werksoeker of ʼn jong entrepreneur is wat probeer om ʼn toekoms vir jouself te bou.
Solidariteit glo dat dit tyd is om ʼn nuwe speelveld te skep – ʼn speelveld waar mense beoordeel word volgens hul vermoëns, vaardighede en harde werk, nié hul velkleur nie.
ʼn Toekoms sonder rasdwang is ʼn toekoms waar ons álmal kan wen.
Die regering se rasmalheid moet stop – Solidariteit veg voort!