
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Om Ramaphosa se aanval op Solidariteit te beantwoord
President Cyril Ramaphosa se uitlatings oor Solidariteit en AfriForum tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie in die Nasionale Vergadering was ongelukkig heel voorspelbaar.
Hy het die organisasies as onpatrioties bestempel weens hulle onlangse uitreik na die VSA. Hy pak die skuld vir die huidige diplomatieke krisis op die afvaardiging van die Solidariteit Beweging en sê daar is ‘rassistiese stellings’ oor ons land versprei. Hoogverraad? Hy laat dit oor aan die wetstoepassers om te besluit, sê die president.
Waar kom hierdie misplaaste kritiek vandaan?
Hier is wat dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, van Ramaphosa se aanval gedink het:
President Ramaphosa stel nie belang in Suid-Afrikaanse oplossings vir Suid-Afrikaanse probleme nie.
Die beste voorbeeld hiervan is Bela. Solidariteit het na ʼn lang onderhandelingsessie by Nedlac, ʼn Suid-Afrikaanse instelling, ʼn getekende ooreenkoms oor Bela met die presidensie bereik. Die presidensie het dit verbreek.
Die Solidariteit Beweging het voor hulle vertrek na Amerika aan president Ramaphosa geskryf. Hy het dit geïgnoreer. Sy woordvoerder het selfs gesê hy gaan nie met die Solidariteit Beweging praat nie.
Solidariteit het ʼn ooreenkoms met die regering dat rassewette tydelik moet wees. Hulle doen niks daaraan nie.
Ons nooi hom ook uit om enige bewyse van vals inligting wat deur ons versprei is, te openbaar. Ons is nie bewus van ʼn enkele paragraaf wat ons aan die Amerikaners oorgedra het wat vals is nie.
Vals bewerings van vals inligting is ook vals. Indien president Ramaphosa nie enige bewyse van misinformasie kan lewer nie, is hy self skuldig aan die verspreiding van misinformasie.