
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Onderhandelinge by FlySafair: Dringende stap om vlieënier-eksodus te stop
Solidariteit berei voor om salarisonderhandelinge met FlySafair aan te pak met die doel om die diensvoorwaardes van vlieëniers te verbeter en sodoende die uittog van kundige personeel te beperk.Lees meer oor die onderhandelinge hieronder.
Solidariteit berei voor om salarisonderhandelinge met FlySafair aan te pak met die doel om die diensvoorwaardes van vlieëniers te verbeter en sodoende die uittog van kundige personeel te beperk.
Hierdie onderhandelinge is van kritieke belang aangesien verskeie faktore vlieëniers dwing om ander werksgeleenthede te oorweeg.
Dit is volgens Remón Viviers, Solidariteit se netwerkorganiseerder vir die lugvaartbedryf. Volgens Viviers is die onderhandelinge nie net daarop gemik om mededingende salarisse vir vlieëniers te verseker nie, maar ook om hul werksomstandighede en algemene welstand te verbeter.
“Solidariteit is tans in ‘n dispuut met FlySafair gewikkel oor ‘n nuwe roosterstelsel wat ‘n beduidende negatiewe impak op vlieëniers se lewenskwaliteit het,” sê Viviers.
Die vakbond het herhaaldelik sy kommer uitgespreek oor die veranderinge in die skofrooster, wat volgens hulle die oorsaak is van groot ontevredenheid onder lede. Indien hierdie kwessie nie dringend aangepak word nie, kan dit verdere personeelverliese tot gevolg hê, wat ‘n ernstige impak op die lugredery se bedrywighede kan hê.
Viviers sê verder FlySafair se bestuur besef nie hoe ontwrigtend en frustrerend die nuwe roosterstelsel vir vlieëniers is nie.
“Hierdie gebrek aan begrip kan moontlik ‘n negatiewe invloed hê op die salarisonderhandelinge, en daarom is dit van kardinale belang dat ‘n wedersyds voordelige oplossing tydens die onderhandelinge gevind word – nie net vir die vlieëniers se welstand nie, maar ook vir die volhoubaarheid van FlySafair en die breër lugvaartbedryf in Suid-Afrika,” sê Viviers.
Solidariteit wag tans op die bevestiging van ‘n datum waarop die salarisonderhandelinge formeel van stapel gestuur sal word. Die vakbond bly toegewyd daaraan om ‘n billike en volhoubare ooreenkoms vir sy lede te onderhandel en om te verseker dat FlySafair sy posisie as ‘n betroubare en bestendige lugredery kan behou.
Klik hier vir die klankgreep.