
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit vra dat Stellenbosch Munisipaliteit se Kannemeyer geskors word
Solidariteit het vandag in ʼn skrywe aan die uitvoerende burgemeester van die Stellenbosch Munisipaliteit gevra dat die mensehulpbronbestuurder, Alexander Kannemeyer, geskors word hangende ʼn dissiplinêre proses. Dit volg ná diskriminerende opmerkings wat Kannemeyer in ʼn video gemaak het wat uitgelek het.
In die brief sê Solidariteit ook dat indien Kannemeyer nie binne sewe dae geskors word nie, Solidariteit verdere stappe sal oorweeg, wat insluit optrede om die werkgewer mede-aanspreeklik vir die diskriminasie te hou.
Dit volg nadat Kannemeyer diskriminerende opmerkings oor ʼn aanstellingsproses gemaak het. Hy het onder meer sy frustrasie uitgespreek dat die kandidate wat die hoogste punt in aansoekprosesse behaal, altyd wit mans is. Hy het gesê dat die “wit persoon” (the white person”) deel is van die probleem. Volgens hom kan wit mense nie by personeel betrokke wees nie. Sy kommer is dat wit mense steeds in beheer van die munisipaliteit se tegniese en waterdienste is. Hy het ook gesuggereer dat die lewe vir “whites” moeilik gemaak moet word sodat hulle bedank. Hy sê voorts dat hy nie omgee as mense sê hy is ʼn rassis nie.
Solidariteit het ʼn memorandum oor Kannemeyer aan die uitvoerende burgemeester van die Stellenbosch Munisipaliteit, Jeremy Fasser, gestuur.
In die Kannemeyer-memorandum word onthul dat die pos ter sprake inderdaad toe nie aanvanklik deur die beste kandidaat (ʼn wit kandidaat) gevul is nie, maar dat dit eers deur ʼn bruin kandidaat en toe, ná haar bedanking, aan ʼn swart kandidaat aangebied is. Die swart kandidaat het die aanbod van die hand gewys, en daarna is die wit kandidaat eers aangestel.
In die memorandum word verder onthul dat ʼn bruin lid van Solidariteit die gewraakte video-opname aan Solidariteit geopenbaar het. Die lid was deel van die Teams-vergadering van die paneel wat oor die aanstelling moes besluit. Hy het gepoog om die opname ná die vergadering te bekom, en het toe ontdek dat die opname gestel was om ná sewe dae te verdwyn in plaas van die praktyk van 180 dae. Gelukkig kon hy wel die video van die vergadering aflaai, want tydens latere litigasie het dit geblyk dat die video intussen verdwyn het.
Hy was so geskok oor die opmerkings dat hy die video aan Solidariteit oorhandig het. Hy het die video egter nie op sosiale media geplaas nie.
Die munisipale bestuurder en Kannemeyer het tot so onlangs as April 2025 dissiplinêre klagte teen die werknemer gelê omdat hy ʼn opname van die video gemaak en aan Solidariteit beskikbaar gestel het. Solidariteit het ʼn saak hieroor namens die lid aanhangig gemaak, en uitspraak is op 24 Junie 2025 ten gunste van Solidariteit gelewer.
Die memorandum aan die burgemeester wys ook op verskeie ander griewe van Solidariteit teen Kannemeyer oor ander diskriminerende opmerkings en voorvalle waarby hy betrokke was.
Sien hier die skrywe sowel as die memorandum.