
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Al groter weerstand in die stryd teen die NGV-monster
Deur Robin-Lee Maré
Die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF) se aansoek by die Konstitusionele Hof, in ʼn poging om die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) te verhoed, kan net verwelkom word.
Solidariteit se regstryd teen die NGV-wet het in Mei 2024 ʼn nuwe fase betree toe hofstukke aan die regering beteken is.
Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, beskou die BHF as ʼn welkome bondgenoot in die stryd teen die NGV.
“Solidariteit is daarvan oortuig dat die NGV-wet ongrondwetlik, irrasioneel en ʼn blatante misbruik van staatsmagte en belastingbetalersgeld is,” sê hy.
Die NGV is ontwerp om bestaande openbare en privaat gesondheidsdienste te integreer. Kenners waarsku egter dat die wet nie die ingewikkeldhede van die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel voldoende in ag neem nie.
Die strukturele en finansiële uitdagings kan lei tot ʼn agteruitgang in dienslewering, wat veral bejaardes, kinders en inwoners van landelike gebiede die hardste sal tref.
Die BHF voer in sy jongste aansoek aan dat die parlement versuim het om sy grondwetlike plig na te kom deur behoorlike openbare deelname te verseker, soos deur artikels 59 en 72 van die Grondwet vereis word.
Verder waarsku hulle dat die NGV ʼn ernstige risiko inhou vir die gehalte en toeganklikheid van gesondheidsorg, met ʼn besonder nadelige uitwerking op kwesbare gemeenskappe.
Solidariteit voer reeds jare lank ʼn stryd teen die NGV-planne. Tog het president Cyril Ramaphosa die NGV op 15 Mei 2024 bekragtig.
Sedertdien is alle middele ingespan, en op 24 Julie 2024 het Solidariteit reeds ʼn belangrike oorwinning behaal toe die Noord-Gautengse Hooggeregshof artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid – wat die regering die mag sou gee om te bepaal waar mediese praktisyns mag praktiseer – ongrondwetlik verklaar het. Lees die uitspraak hier.
Volgens Van der Bijl wag Solidariteit tans vir die staat om sy groot hofaansoek te opponeer.
“Sodra dit gebeur het, vertrou ons dat die saak binne die volgende ses maande tot ʼn jaar in die hof aangehoor sal word, sodat ons die irrasionele wet verder kan betwis.”
Intussen moedig Solidariteit alle belangegroepe aan om tot die stryd toe te tree, aangesien dit een van die belangrikste kwessies van ons tyd kan word.