loading
Artikels
4 uur gelede
sapd-beboet-vir-onregverdige-bevorderingsbesluite-teen-bloemfonteinse-kaptein

Foto Krediet: Okay Deer

SAPD beboet vir onregverdige bevorderingsbesluite teen Bloemfonteinse Kaptein

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet weereens opdok vir die onbillike toepassing van kwansuise gelykheid gedurende bevorderingsprosesse nadat dit voor die Kommissie van Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) uitgedaag is.

Kaptein Kobus Brand het in 2021 aansoek gedoen vir ’n bevorderingspos in die Lugvleuel van die SAPD in Bloemfontein. Brand was in alle opsigte die beste kandidaat vir dié pos. Die onderhoudspaneel het hom dus as die aangewese kandidaat aanbeveel.

Brand het óók gekwalifiseer vir die gelykheidskategorie van gestremde persone, en was die enigste kandidaat met ʼn volledige vliegkwalifikasie vir al die lugvaartuie in daardie eenheid.

Tog is Brand se aansoek geïgnoreer, en die derde beste kandidaat, ʼn minder gekwalifiseerde persoon sonder enige bestuursopleiding, is aangestel. Die SAPD het aangevoer dat dit gedoen is om “gelykheid” te bevorder, maar die gelykheidsplan was nie vooraf in die advertensie geopenbaar nie, en die onderhoudspaneel het boonop reeds gelykheid in hul paneelbeoordeling in ag geneem.

Die KVBA het bevind dat die SAPD se optrede onbillik was. Die interne paneel het Brand aanbeveel ná regmatige oorweging van ervaring, geskiktheid en gelykheid. Verder het die Nasionale Modereringskomitee sonder regmatige gronde die besluit omvergewerp met geen konsultasie of duidelike redes daarvoor nie.

Die KVBA het verder bevind dat die aangewese kandidaat nie eens aan die minimum vereistes van die pos voldoen nie. Daarom is gelykheid selektief toegepas, en die SAPD se optrede is dus irrasioneel en diskriminerend bevind.

Die SAPD is beveel om Brand met terugwerkende krag vanaf 1 Februarie 2022 beskermd te bevorder tot die rang van Luitenant-Kolonel, met die volledige salaris, voordele en status wat daarmee gepaardgaan.

Hierdie saak is een van vele wensake wat nou al ʼn tendens word, en dit wys weereens hoe ondoeltreffend en selektief die SAPD gelykheid toepas as dit by veral bevorderingsprosesse kom.

Volgens Theunis van Staden, organiseerder wat die saak namens Brand hanteer het, kan die SAPD nie gelykheid gebruik om bevoegde kandidate te benadeel nie. “Besluite oor aanstellings moet rasioneel, regverdig en verdedigbaar wees. Verder moet ʼn aanbeveling deur ʼn behoorlik saamgestelde onderhoudspaneel nie lukraak geïgnoreer word nie. Trouens, die toepassing van gelykheid vereis beplanning, duidelike kommunikasie en konsekwentheid,” sê Van Staden.

Ná meer as drie dekades van lojaliteit en diens, het geregtigheid uiteindelik in Brand se saak geseëvier.

Solidariteit sal voortgaan om onreg teen sy lede met alles tot sy beskikking op elke forum te beveg. Hierdie saak is een van tientalle ander sake waar die bevorderingsprosesse van die SAPD bevraagteken word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel