Foto Krediet: Argief
Gekopieër
Eskom-ooreenkoms moet nou alle partye ken én ferrochroombedryf staande hou
Solidariteit glo die tyd is ryp vir onderhandelinge vir ’n gepaste Eskom-kragtarief wat sowel die ferrochroombedryf staande kan hou én ander partye tot voordeel kan wees.
Alhoewel hierdie bereidwilligheid om te onderhandel verwelkom word, en afleggings by Glencore-Merafe en Samancor se smelters daardeur uitgestel is, is afleggings nog nie finaal afgeweer nie.
Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, is ’n wen-wen-ooreenkoms nietemin moontlik en moet daar nou hard gewerk word om ’n volhoubare oplossing te vind.
“Ons hoop die nuwe voorgestelde tarief sal van so aard wees dat dit die werkgewers volhoubaar kan maak. Daarmee saam sal die ferrochroombedryf hopelik kan herleef en sal die smelters weer aan die gang kan kom, wat duisende nuwe werksgeleenthede sal skep. Suid-Afrika het dit dringend nodig.
“Dit sal uiteraard ook goeie nuus vir afstroom-ondernemings wees, en ons hoop dat afleggings deur hierdie proses geheel en al van die tafel sal verdwyn,” sê Venter.
Solidariteit het juis in sy onlangse Nedlac-onderhandelinge met die regering gevra vir ’n spesiale kragtarief wat veral tot die ferrochroom- en staalbedrywe se redding sal bydra.
“Natuurlik sal ’n sinvolle oplossing een wees waardeur Eskom ook sy winsgewendheid kan behou, en hopelik sal dit oor die langer termyn so kan bly sodat nuwe groei en werksgeleenthede gestimuleer kan word.
“Maar buiten vir die kragtarief ag Solidariteit dit ook nodig dat daar aan sy ander eise gehoor gegee word, soos dat Transnet as ’n saak van dringendheid reggeruk word; dat invoere en storting van produkte uit China en Indië beperk word; en dat ’n ooreenkoms oor handelstariewe met die VSA bereik móét word,” sê Venter.
Solidariteit glo die geleentheid doen hom voor waartydens oplossings nuwe sakegeleenthede kan skep wat opsigself verhoogde belastinginkomste vir die regering kan beteken. Besluite kan nou geneem word wat alle kante toe voordelig is.