Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Volksmoord: Wat beteken dit en hoe is dit van toepassing op Suid-Afrika?
Deur Kyla-Ann du Toit
Ons hoor deesdae die woord “volksmoord” (of “genocide”) al hoe meer.
Die wêreldmedia maak veral daarvan melding met verwysing na die konflik tussen Israel en Palestina, en ook met verwysing na die situasie in Suid-Afrika met pres. Donald Trump wat gereeld kies om gruwelike moorde hier met die einste woord te beskryf.

Maar weet ons almal regtig wat hierdie term beteken? Ons het gaan uitvind…
Wat is volksmoord?
Die term is in 1944 deur die Pools-Joodse regsgeleerde Raphael Lemkin geskep. Die internasionale definisie van volksmoord kom uit die Verenigde Nasie se Konvensie oor die Voorkoming en Straf van die Misdaad van Volksmoord van 1948. Hierdie konvensie is die hoeksteen van internasionale reg rakende hierdie soort misdaad.
Volgens artikel 2 van die Konvensie is volksmoord enige van sekere dade soos:
- 1. die doodmaak van lede van ʼn groep;
- 2. die toediening van ernstige liggaamlike of geestelike skade; en/of
- 3. die doelbewuste skep van lewensomstandighede wat daarop gemik is om die groep uit te wis.
Daar is dus twee kernelemente wat bewys moet word vir ʼn daad om as volksmoord geklassifiseer te word: ʼn fisieke element (die dade self) en ʼn geestelike element (ʼn spesifieke bedoeling om die betrokke groep as groep uit te wis).
Wat dan van plaasmoorde?
Ernst Roets verduidelik in sy boek Kill the Boer: Government complicity in South Africa’s brutal farm murders, en spesifiek in die uittreksel “Farm Murders and the Question of Genocide”, hoe hierdie definisie op plaasmoorde toegepas moet word.

Hy wys daarop dat plaasaanvalle wel uiters gewelddadig en dikwels haatgemotiveerd is, maar dat beskikbare navorsing toon dat oortreders meestal motiewe soos roof en geld noem, eerder as ʼn plan om wit boere as groep uit te roei.
Sonder bewese bedoeling om die groep as sodanig te vernietig, val plaasmoorde dus volgens hom nie binne die streng VN-definisie van volksmoord nie, al kan dit wel as haatmisdade of selfs moontlike misdade teen ʼn minderheidsgroep beskou word.
Die gevaar van die fokusverskuiwing
Wanneer die term “volksmoord” te maklik gebruik word, pas dit die regering natuurlik baie goed. Die hele debat word dan verskuif – weg van die werklike krisis naamlik dat mense (boere, hul families en plaaswerkers) op ʼn gewelddadige wyse hul lewens verloor of brutaal aangeval word.
Dit het mode geword om liewer oor die gebruik van terminologie te stry.
Soos Roets in sy boek uitwys, verander die gesprek in ʼn woordestryd oor definisies, terwyl slagoffers se stories stil raak. Dit veroorsaak verdeeldheid onder almal wat eintlik saam teen plaasmoorde behoort te staan eerder as om aan praktiese oplossings te fokus.
Genocide Watch en Suid-Afrika
Ondanks die gevaar van die verkeerde etiket, is daar internasionale instrumente wat tog help om die erns van die situasie te meet – selfs al is dit nie amptelik “volksmoord” nie. Die organisasie Genocide Watch het die “tien stadia van volksmoord” as ʼn waarskuwingstelsel ontwikkel.

Verslae van hierdie organisasie dui daarop dat Suid-Afrika – met spesifieke verwysing na die gemeenskap van wit boere – reeds vir jare lank op ‘fase 6’ geplaas word. Die fase staan as “polarisasie” bekend en word gekenmerk deur verskerpte “ons teen hulle”-retoriek, haatspraak deur invloedryke politieke en sosiale figure, en propaganda wat groepe teen mekaar opstook.
Volgens Genocide Watch is Suid-Afrika nie by die “uitwissing”-fase nie en verwerp hulle dus bewerings van ʼn reeds bestaande “wit volksmoord”. Hulle waarsku egter terselfdertyd dat die kombinasie van volgehoue hoë vlakke van ernstige misdaad, toenemende haatspraak en die regering se traagheid om die geweld aan te spreek, ernstige waarskuwingstekens is.

Dit help nie om weens aanvallige mediakommentators eers op ʼn fase 10 te wag voordat daar hierteen opgetree word nie.
Die feit dat Suid-Afrika reeds op fase 6 is, impliseer dat ons by ʼn kritieke kruispad te staan gekom het. Ons fokus moet daarop wees om die geweld en die polariserende retoriek wat die werklike probleem ( soos plaasmoorde) verdoesel, te beveg en met alle moontlike middele te keer dat dit na fase 7 (“voorbereiding”) of selfs verder eskaleer.