Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
7 uur gelede
solidariteit-seevier-na-sentrale-pilaar-van-ngv-tot-n-val-kom

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit seëvier na sentrale pilaar van NGV tot ʼn val kom

Solidariteit vier die Konstitusionele Hof se uitspraak vandag oor die sertifikaat van behoefte en beskou dit as ʼn reuse-sege vir gesondheidspraktisyns asook die groter publiek.

Volgens hierdie uitspraak is gedeeltes van die Nasionale Gesondheidswet wat voorsiening maak vir die sogenaamde sertifikaat van behoefte ongrondwetlik verklaar. Dié behoeftesertifikaat was een van die belangrikste meganismes waarmee die regering groter beheer oor die gesondheidsbedryf wou uitoefen.

Dit sou die staat toenemend die mag gegee het om te bepaal watter gesondheidspraktisyn waar mag praktiseer en watter dienste gelewer mag word.

Dit is in ooreenstemming met die beroep wat Solidariteit en sewe ander applikante op die hof daaroor gedoen het.

Vir gesondheidspraktisyns is hierdie uitspraak ’n oorwinning vir vryheid en beroepsonafhanklikheid, maar ook vir elke Suid-Afrikaner ʼn wen op hulle reg op beter gesondheidsorg.

Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê hierdie uitspraak laat een van die sentrale pilare kantel waarop die regering se verwronge en vernietigende gesondheidsplanne steun.

“Een van die NGV se sentrale pilare het vandag tot ’n val gekom. Die behoeftesertifikaat was veel meer as bloot ’n administratiewe instrument. Dit was ’n instrument van sentralisering en staatsbeheer.

“Die regering wou gesondheidspraktisyns soos sy eie pionne op ’n skaakbord rondskuif om sy eie mislukkings te verbloem. Vandag het die hof gesê Suid-Afrikaners is nie staatsbesit nie en professionele mense is nie pionne van die regering nie,” sê Van der Bijl.

Solidariteit het deurentyd aangevoer dat gehaltegesondheidsorg nie deur dwang en burokratiese beheer uitgebrei kan word nie.

Van der Bijl sê die uitspraak kan dus as ʼn groot deurbraak vir veral gesogte beroepslui in die gesondheidsorgsektor beskou word.

“Geen regering kan dokters, tandartse, verpleegkundiges en ander gesondheidspraktisyns deur regulasies forseer om gehaltegesondheidsorg te skep waar die regering self misluk het nie,” sê hy.

Solidariteit beklemtoon verder dat die uitspraak groter betekenis inhou vir die stryd teen die NGV en as sterk teenkanting dien teen die grondwetlikheid van staatsentralisering wat ʼn kernbeginsel van die NGV is.

Solidariteit sal sy breër regstryd teen die NGV voortsit.     

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel