Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
3 uur gelede
groot-solidariteit-hofstryd-voorkeurverkryging-dryf-sa-tot-op-rand-van-ekonomiese-afgrond

Foto Krediet: ChatGPT

Groot Solidariteit-hofstryd: Voorkeurverkryging dryf SA tot op rand van ekonomiese afgrond

Solidariteit waarsku dat Suid-Afrika nie langer die vernietigende gevolge van rasgedrewe voorkeurverkryging en die toenemende uitbreiding daarvan kan bekostig nie. 

Die waarskuwing is ʼn kerndeel van Solidariteit se grondwetlike hofstryd teen die Wet op Openbare Verkryging.

Die saak word vandag en môre in die Konstitusionele Hof aangehoor. 

Hierdie saak gaan nie bloot oor wetgewing nie, maar ook oor ekonomiese groei, dienslewering en Suid-Afrikaners se reg op ʼn funksionerende staat.

Solidariteit se regspan het geargumenteer die nuwe verkrygingsbedeling skep nie net méér regulering nie, maar dit bou ook ʼn stelsel verder uit waarin ras toenemend bo bekostigbaarheid, gehalte en mededinging geplaas word.
Volgens die nuwe regulasies moet staatsinstellings groot dele van hul aankope reserveer vir ondernemings wat aan bepaalde rasvereistes voldoen.

Dít terwyl ondernemings self ook aan uitgebreide bemagtigingsvereistes moet voldoen om enigsins in aanmerking te kom. Solidariteit waarsku dat dit die poel van verskaffers verder verklein en pryse kunsmatig opstoot.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê hierdie stelsel raak nie net sakeondernemings in Suid-Afrika nie.

“Voorkeurverkryging raak elke Suid-Afrikaner. Dit bepaal wat die staat vir skole, hospitale, paaie, elektrisiteit en infrastruktuur betaal. 

“Wanneer ras en politieke doelwitte belangriker as waarde vir geld word, is dit die gewone burgers wat uiteindelik die prys betaal, en dit is presies wat tans gebeur,” sê hy.

Du Buisson sê hierdie rasgedrewe praktyke skep gunstige omstandighede vir skadelike middelmanne, tendernetwerke en verhoogde staatsuitgawes.

“Wanneer die staat nie meer die eenvoudige keuse kan maak om by die beste en mees bekostigbare verskaffers aan te koop nie, ontstaan ʼn stelsel waarin tussengangers en tenderpreneurs floreer sonder om werklike waarde toe te voeg.

“Suid-Afrika beleef reeds die gevolge hiervan in die vorm van vervalle infrastruktuur, swak dienslewering en toenemende druk op belastingbetalers,” verduidelik Du Buisson.

Volgens hom hou die regering aan om te belowe dat nóg rasvoorskrifte die probleme sal oplos. 

“Tog leef Suid-Afrikaners reeds met die verwoestende gevolge van hierdie benadering. Mense sit met duurder dienste, swakker uitkomste en ʼn staat wat toenemend sukkel om sy basiese funksies te verrig,” sê Du Buisson.

Solidariteit voer verder aan dat die openbare deelnameproses rakende die wetgewing ernstige gebreke toon, en dat ingrypende wysigings aan die verkrygingsraamwerk aangebring is sonder voldoende openbare deelname of toegang tot noodsaaklike inligting.

Volgens Du Buisson gaan die saak uiteindelik oor méér as ekonomiese beleid.

“Hierdie saak gaan oor die vraag of Suid-Afrika sy ekonomie op mededinging, bekostigbaarheid en meriete gaan bou, en of dit op ʼn stelsel van politieke en rasvoorskrifte gaan steun wat reeds groot dele van die staat, ten koste van almal, verswak het.”

Solidariteit sê hy het geen ander keuse as om die wetgewing in belang van belastingbetalers, verbruikers en die breër Suid-Afrikaanse ekonomie teen te staan nie.

Klik hier vir Solidariteit se hofstukke.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel