loading
Artikels
13 uur gelede
werkgewerskongres-2025-die-invloed-van-wereldgebeure

Foto Krediet: Solidariteit

Werkgewerskongres 2025: Die invloed van wêreldgebeure

Deur Kyla-Ann du Toit

In Suid-Afrika is onsekerheid tans die enigste sekerheid. Daarom het Solidariteit, in samewerking met Akademia en Ajani, op 2 September 2025 ʼn insiggewende en strategiese kongres vir werkgewers gehou.

Met die tema “Hoe beïnvloed wêreldgebeure jou maatskappy?” het die kongres gefokus op wêreldwye gebeure wat Suid-Afrikaanse ondernemings direk en indirek beïnvloed. Die vraag was duidelik: Hoe raak wêreldpolitiek, ekonomiese klimaat en plaaslike beleid werkgewers in Suid-Afrika?

Bywoners van die kongres het die geleentheid gehad om met mekaar te netwerk terwyl almal ʼn heerlike ontbyt geniet het.

ʼn Realistiese blik op uitdagings én geleenthede

Pieter Jordaan, afdelingshoof van Solidariteit se Kommunikasie-afdeling, het die gesprek afgeskop met ʼn oproep tot nugtere insig en eerlike selfondersoek. Hy het verwys na ʼn jaar vol plaaslike en internasionale verwikkelinge – van die Bela-wetgewing tot die herroeping van die BTW-verhoging sowel as president Donald Trump se invoertariewe.

Mandy Thackwray, bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling, het toe die gehoor aangespreek met ʼn kragtige boodskap van hoop. Sy het klem gelê op die rol wat Solidariteit se werkfasiliteringsplatform speel in werkskepping, talentontwikkeling en die bou van volhoubare werkverhoudinge, asook die belangrikheid daarvan in die huidige klimaat.

Mandy Thackwray, bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling, verwelkom almal.

“Dit was vandag weereens vir ons ʼn voorreg om ons jaarlikse werkgewerskongres aan te bied. Die doel van hierdie dag is dat werkgewers nie net met mekaar kon netwerk nie, maar dat hulle hier kon wegstap en verstaan wat Solidariteit doen – veral ten opsigte van werkfasilitering,” sê sy.

“Ons het vandag ongelooflik baie geleer oor die nasionale en internasionale klimaat en hoe dit ons ondernemings beïnvloed – nie noodwendig op ʼn negatiewe manier nie, maar op ʼn manier wat ons inspireer. Ons kan hier uitstap met die wete: ons gaan aanhou bou. Elke werkgewer dra by, want dit begin by elkeen van ons.”

Die stand van Suid-Afrika

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het daarna die stem van nugter ontleding gebring met sy voorlegging oor die stand van die land in 2025. Hy het nie doekies omgedraai nie: Suid-Afrika is in die middel van ʼn diep strukturele krisis – van stagnerende wetgewende gesag tot stygende werkloosheid en ekonomiese ongelykheid.

Volgens hom was 2025 ʼn woelige jaar op politieke vlak. Plaaslik het die ANC se onvermoëns en samewerking met radikale groeperings onsekerheid geskep, terwyl Trump en die VSA se nuwe buitelandse beleid direk op Suid-Afrika gerig is, met invoertariewe en diplomatieke druk wat reeds veranderinge begin teweegbring.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het gesels oor die stand van Suid-Afrika.

“As jy wil weet wat om te doen en hoe om dit te doen, moet jy die regte bronne kry, ingelig wees en seker wees oor wat kom. Ons beweeg duidelik na ʼn post-ANC-wêreld en daardie wêreld gaan ʼn vakuum laat,” het Mulder verduidelik. “Mense met vaardighede gaan al hoe skaarser word. Vaardighede mag dalk selfs die nuwe mag wees. Dit is hoekom dit só belangrik is om kapasiteit in die privaat sektor én in jou gemeenskap op te bou.”

Hy het gewaarsku dat jy die opsie het om weg te kyk van wat aan die kom is, maar dit gaan jou nie minder tref nie. “Of jy vir die golwe kyk of nie, dit gaan jou nog steeds tref. Jy kan net sowel kyk, en leer hoe om hulle te ry. Daar kom baie onsekerheid en die beste antwoord op onsekerheid is inligting. Om ingelig te wees, help jou nie net om te oorleef nie, maar om geleenthede raak te sien.”

Mulder het verder verwys na strukturele armoede, vertragings in wetgewing, die ineenstorting van staatsvermoëns en die belangrike rol wat gemeenskappe en ondernemings sal speel om die gapings te vul.

Kongresbywoners luister aandagtig.

Internasionale invloede op Suid-Afrikaanse ondernemings

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale en openbare skakeling by Solidariteit, het ʼn realistiese en geopolitieke blik op die wêreldorde van 2025 gebied. Hy het verduidelik hoe ons in ʼn nuwe globale magstryd leef waar die wêreld in twee kampe verdeel is: aan die een kant Amerika en Westerse demokratiese lande en aan die ander kant China, Rusland en outokratiese bondgenote.

“Suid-Afrika is êrens in die middel en tans eintlik ʼn slagoffer van hierdie nuwe globale magstryd,” sê hy. “Ons regering se onvermoë om koers te hou, het daartoe gelei dat ons toenemend by outokratiese lande skaar, wat reeds gevolge inhou, soos die 30%-invoertarief wat plaaslike ondernemings direk benadeel.”

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale en openbare skakeling by Solidariteit, gesels oor die impak van internasionale gebeure.

Hy het beklemtoon dat Suid-Afrika nie ʼn geïsoleerde land is nie, maar dat ons ekonomie baie blootgestel is aan valuta-verwisselings, internasionale beleggings en handelsbeleide. “Globalisering beteken dat enige werkgewer in Suid-Afrika direk geraak word deur internasionale gebeure. Ons het reeds met die afgelope weke se aankondigings van werksverliese in Suid-Afrika gesien hoe internasionale gebeure, besluite en nuus ʼn invloed het.”

Solidariteit neem daarom ʼn aktiewe ʼn rol in – waar die regering se diplomasie faal – deur direk met internasionale vennote te skakel en ʼn alternatiewe boodskap van stabiliteit, neutraliteit en oplossingsgedrewe optrede namens Suid-Afrikaanse werkgewers te dra.

 “Ten spyte van die risiko’s en bedreigings maak dit my ook opgewonde dat ons aan werklike oplossings vir die toekoms in Suid-Afrika kan begin werk,” meen Kleynhans.

Sekerheid oor die toekoms in ʼn onsekere tyd

Die kongres is afgesluit met ʼn bankgesprek waartydens bywoners die geleentheid gehad het om vrae aan Mulder en Kleynhans te rig. Dié gesprek het nie net die geleentheid geskep vir verdere gesprekke nie, maar het ook gewys hoe belangrik dit is dat werkgewers nie net luister nie, maar ook betrokke raak by die gesprek oor die toekoms. Praktiese vrae, eerlike onsekerheid en strategiese antwoorde het die sessie gekenmerk, en dien as ʼn teken van die gemeenskap se bereidwilligheid om saam oplossings te soek.

Pieter Jordaan, afdelingshoof van Solidariteit se Kommunikasie-afdeling, lei die bankgesprek terwyl kongresbywoners vrae aan Mulder en Kleynhans kon rig.

Die Werkgewerskongres van 2025 was veel meer as ʼn netwerkgeleentheid – dit was ook ʼn strategiese werkwinkel, ʼn blik op die werklikheid in ons land en ʼn mobiliseringspunt vir Afrikaanse werkgewers. Tussendeur die gesprekke het een tema deurslaggewend gebly: Die toekoms is onseker, maar ons kan self ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms verseker.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel