
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Nóg afleggings by Glencore: Duisende werke, gesinne geraak
Solidariteit bevestig nóg twee afleggingskennisgewings, wat meer as ʼn duisend werke in gedrang laat.
Glencore Operations South Africa het pas twee artikel 189-kennisgewings uitgereik – een by die Rhovan-myn en nog een by die maatskappy se hoofkantoor. Volgens Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se mynbou-, landbou- en chemiese sektor, sien ons ʼn herhaling van dieselfde patroon wat begin het met afleggings by ArcelorMittal en wat voortgeduur het met die sluiting van Assmang se Beeshoek-myn – net hierdie keer met massa-afleggings by Glencore.
Volgens die maatskappy is die redes vir die voorgenome afleggings die volgehoue swak marktoestande, internasionale oorproduksie en aanhoudende lae kommoditeitspryse, tesame met Suid-Afrika se eie strukturele krisisse soos uiters hoë elektrisiteitskoste, koolstofbelasting, en ʼn spoorwegstelsel wat eenvoudig nie meer funksioneer nie.
“Glencore se besluit om Rhovan se ferrovanadium-produksie te beëindig en die Alloys-hoofkantoor se ondersteuningsdienste te herstruktureer, gaan honderde gesinne sonder brood op die tafel laat,” sê Visser.
“Wat ons hier sien, is dat Suid-Afrikaanse werkers die prys betaal vir die regering se beleidsfoute en Eskom se tariefontploffing. Sedert 2008 het kragtariewe gestyg – wat die hele bedryf onmededingend teenoor lande gemaak het, waar laer elektrisiteitskoste en regeringsondersteuning die norm is,” voeg hy by.
Solidariteit sal die konsultasieprosesse onder toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) bywoon en sy lede in beide afdelings bystaan met volledige regs- en arbeidsregondersteuning.
“Ons gaan alle alternatiewe ondersoek om werksverliese te beperk en te verseker dat, waar poste wel gesny word, werknemers regverdig en ordentlik behandel word. Daar lê nog ʼn donker tyd voor. Sonder dringende verbeterings aan regeringsbeleid en infrastruktuur, gaan duisende verdere poste regoor die land verlore gaan,” waarsku Visser. Hierdie jongste kennisgewings volg kort ná die nuus oor ander Glencore-bedrywighede wat reeds onder druk verkeer. Vir Visser is dit duidelik dat die voortbestaan van die sektor op ʼn mespunt is, en die regering se versuim om ʼn mededingende bedryfsklimaat te skep, plaas tienduisende Suid-Afrikaanse gesinne se toekoms op die spel.