
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Golf van afleggings: Glencore volgende ná Ford, Amsa
Solidariteit bevestig dat Glencore Operations South Africa die jongste maatskappy is wat ʼn amptelike kennisgewing ingevolge Artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge uitgereik het, waarin die maatskappy sy voorneme aankondig om werknemers af te lê.
Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê dat Glencore se aankondiging die totale aantal poste wat binne ongeveer twee werksdae van kant gemaak gaan word, op amper 6 000 te staan bring. Lees hier meer oor ArcelorMittal (Amsa) en Ford Suid-Afrika se onlangse afleggingskennisgewings.
Volgens Glencore hou die voorgenome afleggings direk verband met die volgehoue nie-lewensvatbaarheid van die smelters waaraan Glencore sy produksie lewer. Stygende elektrisiteitskoste, Eskom se tariefstruktuur, die ineenstorting van Transnet se spoorwegstelsel, en die regering se onvermoë om tydig mededingende toestande te skep, het die situasie onhoudbaar gemaak.
“Die toedrag van sake by Glencore en die smelters is ʼn direkte gevolg van die regering se onbevoegdheid en versuim om die bedryf se uitdagings aan te spreek,” sê Venter.
“Ons praat hier van uitermatig hoë elektrisiteitskoste, ʼn koolstofbelasting wat koste verder opstoot, en ʼn spoorwegstelsel wat eenvoudig nie meer die bedryf kan dien nie. Intussen bied ander lande hul nywerhede mededingende voorwaardes, terwyl Suid-Afrika sy eie bedryf se mededingendheid ondermyn,” verduidelik Venter.
Volgens Solidariteit wys hierdie voorgenome afleggings dat die staatsverval nie net individue raak nie, maar hele bedrywe vernietig.
Solidariteit het bevestig dat hulle die komende konsultasieproses onder toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) sal bywoon, en volle regs- en arbeidsregondersteuning aan sy lede sal bied.
Glencore is reeds swaar getref met 10 van sy 22 oonde wat permanent of tydelik gesluit is. Venter waarsku dat indien die oorblywende oonde ook tot stilstand gedwing word, dit ʼn rampspoedige uitwerking sal hê: sowat 2 425 direkte poste, meer as 17 000 indirekte werksgeleenthede, en ʼn geraamde 155 000 afhanklikes sal dan direk geraak word.
“Ons sal alles moontlik doen om werksverliese te beperk, maar die groter prentjie is dat tienduisende poste in Suid-Afrika in gevaar is as gevolg van die regering se ekonomiese wanbestuur,” sê Venter.
“ʼn Bloedbad van afleggings het gerealiseer. Glencore is nou die nuutste toevoeging wat vooraf gegaan is deur ArcelorMittal SA, Ford SA, Beeshoek-myn en GoodYear SA. Ons is bevrees dat die golf van massa-afleggings regoor die land begin momentum kry weens regeringsbeleid, ʼn gebrek aan ekonomiese groei en infrastruktuurontwikkeling, en ander strukturele probleme wat dringend die regering se aandag verg,” sê Venter. In reaksie hierop neem Solidariteit die taak op om weer eens die regering te nader om dringende ingryping te eis.