loading
Artikels
2 maande gelede
die-welstand-van-verpleegkundiges-n-dringende-prioriteit

Foto Krediet: Solidariteit

Die welstand van verpleegkundiges: ʼn dringende prioriteit

Die Solidariteit Verpleegnetwerk is daarop toegespits om ʼn veilige omgewing te skep waarin verpleegkundiges volhoubare gesondheidsorg kan lewer. Die Solidariteit Navorsingsinstituut het ʼn navorsingsverslag bekendgestel wat verskeie knelpunte in die verpleegberoep beklemtoon en die noodsaaklikheid vir strukturele verbeterings onderstreep. Lees hier meer oor die verslag:


Deur Kyla-Ann du Toit

Verpleegkundiges vorm die ruggraat van enige gesondheidsorgstelsel, maar in Suid-Afrika word verpleegkundiges gekonfronteer met uitdagende werksomstandighede wat hul fisieke en geestelike gesondheid ernstig beïnvloed. Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het onlangs ʼn navorsingsverslag bekendgestel wat die vele knelpunte in die beroep beklemtoon en die noodsaaklikheid vir strukturele verbeterings onderstreep.

“Die stem van verpleegkundiges kan deur hierdie navorsing gehoor word, en die Solidariteit Verpleegnetwerk wil bewustheid skep en druk uitoefen wat tot die ontwikkeling van ʼn meer ondersteunende en volhoubare werksomgewing vir die lede van hierdie netwerk kan bydra,” sê Nadine Steyn, netwerkorganiseerder van Solidariteit se mediese beroepsnetwerke.

Hier is ʼn oorsig van die verslag:

Uitdagings en stresfaktore

Die studie, wat 461 respondente ingesluit het, dui aan dat verpleegkundiges hoë werkslading, personeeltekorte en emosionele spanning as kernprobleme ervaar. Die meerderheid respondente is vroulik en ouer as 50 jaar, wat beteken dat ʼn groot deel van die beroepsgroep reeds in die middel- of eindfase van hul loopbane is. Hierdie situasie plaas verdere druk op ʼn reeds uitgedunde gesondheidsorgsektor.

Uit die verslag blyk dit dat 65,6% van die verpleegkundiges hul werkslading as oorweldigend ervaar en dat 54,9% gereeld moeg en uitgebrand voel. ʼn Verdere 46,3% is bekommerd dat hul werk hulle emosioneel afgestomp maak, terwyl 43,7% daagliks angs ervaar oor die moontlikheid om foute te maak. Dit toon die uiters veeleisende aard van die beroep en die negatiewe impak daarvan op verpleegkundiges se algemene welstand.

Fisieke en emosionele gesondheid

Die verslag dui aan dat 58,8% van die respondente hoë stresvlakke ervaar, met rugpyn (57,1%), gewigsprobleme (54,9%) en slaapprobleme (50%) as algemene gesondheidskwessies. Hierdie fisieske probleme, gekombineer met emosionele druk en ʼn gebrek aan ondersteuning, maak dit moeilik vir verpleegkundiges om hul werk doeltreffend te verrig. Meer as 48% van die respondente het ook aangedui dat hulle glad nie aan fisieke aktiwiteite deelneem nie, wat verdere gesondheidsrisiko’s meebring.

Werkstevredenheid en interpersoonlike verhoudings

Ten spyte van die uitdagings, is daar positiewe aspekte wat uit die navorsing na vore kom. Die meeste respondente (84,5%) voel dat hulle oor voldoende opleiding beskik, en 59,3% geniet steeds hul werk. Daar is ook ʼn sterk gevoel van ondersteuning tussen kollegas, met 66,1% wat meld dat hul kollegas hulle gereeld tot altyd ondersteun.

Die studie toon egter dat interpersoonlike konflik steeds ʼn groot probleem in die werkplek is. Meer as 67% van respondente het aangedui dat konflik hul welstand negatief beïnvloed, en 71,8% meen dat dit hul persoonlike lewe raak. Verder voel 69% van verpleegkundiges dat bestuur nie doeltreffend is in die hantering van probleme nie, en 71,2% vertrou nie dat bestuur hul probleme ernstig opneem nie.

Etiese en morele uitdagings

ʼn Groot bekommernis is die etiese en morele konflikte wat verpleegkundiges daagliks ervaar. Meer as 30% van die respondente bevind hulself gereeld in situasies waar hulle etiese kompromieë moet aangaan weens hoë werksdruk en personeeltekorte. Dit het ʼn negatiewe impak op hul selfwaarde en professionele trots, en 29,8% van respondente meen dat dit hul morele welstand ernstig affekteer.

Die verslag bied ʼn ontnugterende blik op die uitdagings waarmee verpleegkundiges daagliks gekonfronteer word. Dit is duidelik dat verbeterde ondersteuning, beter werksomstandighede en ʼn fokus op verpleegkundiges se fisieke en emosionele gesondheid noodsaaklik is.

Die Solidariteit Verpleegnetwerk wil graag bewusmaking skep oor die beleidsveranderinge wat nodig is om ʼn gesonder en meer volhoubare werksomgewing vir hierdie noodsaaklike beroep te skep.

Die Solidariteit Verpleegnetwerk is daarop toegespits om ʼn veilige omgewing te skep waarin verpleegkundiges volhoubare gesondheidsorg kan lewer. Dié beroepsnetwerk is ook daar om jou as verpleegkundige te help ontwikkel en met kennis toe te rus sodat jy jou daaglikse take professioneel en eties kan aanpak.

Die Solidariteit Verpleegnetwerk wil graag vir Nicolien Welthagen, navorser verbonde aan die SNI, bedank vir haar moeite met hierdie verslag.

Klik hier om die volledige verslag te lees.

Word vandag nog deel van jóú beroepsgemeenskap!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel