loading
Blogs
22 uur gelede
dit-is-hoekom-ek-teruggekom-het-sa-toe

Foto Krediet: Solidariteit

Dít is hoekom ek teruggekom het SA toe

Deur Robin-Lee Maré

Ons almal ken die gesegde: “Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie.” En ek kan uit persoonlike ervaring sê, dit is absoluut waar!

Deesdae hoor ’n mens gereeld van mense wat emigreer of in die buiteland gaan werk. Ons almal ken iemand wat al die sprong gewaag het. Dis maklik om betower te word deur die pragtige foto’s en stories oor skoon, veilige omgewings en eindelose werksgeleenthede vir Afrikaners in ander lande. Hierdie dinge kan maklik aanloklik wees en maak dit verstaanbaar waarom so baie Suid-Afrikaners groener weivelde elders gaan soek.

Ek was self een van daardie mense wat daarvan oortuig was dat ek my nuwe tuiste buite Suid-Afrika wou vind. Nadat ek my studie voltooi het, het ek besluit om vir ’n jaar as au pair in Nederland te werk. Ek het gedink hierdie stap sou my die kans gee om Europa te verken en uiteindelik te besluit waar ek my permanent oorsee sou vestig. Maar ek het gou geleer dat dinge nie altyd so eenvoudig uitwerk as wat ’n mens beplan nie.

Toe ek vir die eerste keer my voete op Nederlandse grond sit, het ek onmiddellik besef: hierdie plek is nie my tuiste nie. Al is Nederlands die oorsprong van Afrikaans, bly dit steeds nie Afrikaans nie. Die kultuur was vreemd, die weer donker en koud, en dit het byna konstant gereën. Selfs toe ek ander lande soos België en Frankryk besoek het, het ek gevoel dat ek nog verder van my wortels af is – dit was nie my taal, my kultuur of my mense nie. En die ergste van alles, niemand het my grappies verstaan nie!

Ek het ook keuring gekry om my meestersgraad in Engeland te gaan doen, maar het besluit om dit te laat vaar. Toe ek uiteindelik terug is in Suid-Afrika en iemand my in die openbaar in Afrikaans antwoord, het dit my diep geraak. Die klank van my moedertaal het mooier as enige musiek geklink. Op daardie oomblik het ek geweet: Suid-Afrika is my ware tuiste, en geen ander plek sal ooit dieselfde vir my wees nie.

Vandag is ek dankbaar om in Suid-Afrika te kan bly en werk. Ja, ons land het sy uitdagings, maar danksy Solidariteit kan ek in Afrikaans op Solidariteit se werkplatform, sonder rasse-regulasies, aansoek doen vir werk. Solidariteit staan ook gereed as waghond om my regte in die werkplek te beskerm, wat my gemoedsrus gee dat ek nie onregverdig behandel sal word nie.

Verder is ek opgewonde oor hoe Solidariteit aan instellings soos Akademia en Sol-Tech bou, wat die geleenthede vir my kinders sal skep om eendag in Afrikaans te studeer, wat vir my van groot waarde is.

Danksy Solidariteit bly Suid-Afrika vir my die plek waar ek werklik tuis voel.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel