loading
Artikels
1 dag gelede
dit-is-nou-tyd-vir-praat-oor-bela

Foto Krediet: Solidariteit

Dit is nou tyd vir praat oor Bela

Die Solidariteit Beweging doen ʼn beroep op president Ramaphosa om in te gryp sodat gesprekke oor Bela voortgesit kan word. Die Beweging gaan ook dié oproep deur ʼn skrywe aan president Ramaphosa bevestig. 

Suid-Afrika en die regering van nasionale eenheid word deur Bela met sy grootste toets gekonfronteer. Dit kan tot ʼn breuk in die land en die regering van nasionale eenheid lei. Die president het drie maande vir dialoog gegee. 

Die nasionale werkkomitee van die ANC se oproep om Bela in die geheel te implementeer, sal gesprekvoering tot ʼn einde bring. Dit ondermyn die president se oproep tot gesprek. Dit sal die spanning net verhoog en sal vertroue in die land skaad. Dit sal die hele regering van nasionale eenheid in gevaar plaas. So ʼn oproep is roekeloos in ʼn tyd waar ʼn nuwe regering nog broos is. Dit is ook nie in goeder trou om midde-in gesprekke so ʼn eensydige verklaring uit te reik nie. 

Daar is die afgelope twee maande goeie vordering in gesprekke tussen die Solidariteit Beweging, insluitende Solidariteit en AfriForum, die Afrikaanse Onderwysnetwerk en die ANC gemaak. Die gesprekke het gewys dat daar wel gemene grond is en dat ʼn ooreenkoms moontlik is. Daardie gesprekke moet voortgesit word. Dispute moet eerder in die gesprek en nie deur dreigemente nie hanteer word. Terwyl ons ʼn oplossing wil kry, bestuur die ANC faksies. 

Dit sal ʼn ramp wees as die gesprekke gestaak word voor die drie maande verby is. In die lig van die spanningsvlakke oor Bela is selfs méér tyd vir gesprek nodig. 
Dit hang nou alles af van die onderskeie rolspelers se verbintenis om oplossings deur dialoog te kry. 

Ons doen ʼn oproep om die gesprek oor Bela met erns voort te sit. Dit sal ʼn kragtige boodskap uitstuur as ʼn oplossing oor verdelende kwessies soos Bela gevind kan word. 

Die optog van meer as 10 000 mense teen Bela en die ANC se studiegroep oor basiese onderwys  se reaksie daarop wys hoe hoog die emosie loop. 
Die optog het gewys hoe gewone Afrikaanssprekendes en ondersteuners van moedertaalonderwys voel. Die optog was nie téén enige iets of iemand nie, maar vír die idee dat kinders in hulle eie taal onderrig moet ontvang. Dit is iets wat aan alle Suid-Afrikaanse kinders gegun word.

Die optog het egter ook getoon hoe hoog die emosie onder Afrikaanssprekendes oor die kwessie is. Dit is nodig vir die groter gesprek dat mense ook in die openbaar hul gevoel kan wys. Dit is deel van die demokratiese proses en dialoog. 

Die gebeure die afgelope week het gewys dat gesprek nou noodsaaklik is. Ons spreek ons verbintenis tot verdere gesprekvoering uit. Die antwoord nou is om die tafel. Die alternatief is ʼn ramp vir almal.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel