loading
Mediaverklarings
2 weke gelede
cosatu-aantygings-oor-ou-apartheidsvlae-by-bela-protes-is-vals

Foto Krediet: Solidariteit

Cosatu-aantygings oor ou apartheidsvlae by Bela-protes is vals

Die Cosatu-vakverbond se aantygings dat “ou apartheidsera-vlae” tydens gister se Bela-protesoptog in Pretoria vertoon is, is kwaadwillig  en vals. Só sê AfriForum en Solidariteit, organiseerders van die Bela-protesaksie wat gister meer as 10 000 protesgangers gelok het om hul stem teen die klousules oor openbare skole se taal- en toelatingsbeleide, soos vervat in die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024, te laat hoor.

Die organisasies hou vol dat daar op geen stadium van die dag enige vlae van die vorige bedeling vertoon is nie. Een persoon wat wel ’n ou Transvaalse Vierkleur vertoon het, is met sy aankoms onmiddellik versoek om die terrein te verlaat en is deur sekuriteit van die terrein af begelei. 

Volgens dr. Dirk Hermann is Cosatu se aantygings opportunisties. “Die persoon wat weggewys is omdat hy die Vierkleur vertoon het, was één uit meer as 10 000 mense, en die situasie is dadelik en doeltreffend hanteer. Die doel van die protesoptog was om teenkanting teen die spesifieke artikels in die Bela-wet aan te teken. Dit was ’n positiewe optog met die oog op ’n oplossing vir ’n groot brandpunt,” sê Hermann.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, benadruk dat die aantygings daarop gemik is om die aandag van ’n belangrike saak af te lei. “Die fokus moet nou eerder op gesprekvoering wees. Dit sal goed wees vir die land as ’n oplossing deur gesonde dialoog, eerder as ongegronde aantygings, verkry word,” sluit Kriel af. 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel