loading
Blogs
1 dag gelede
bela-waar-trek-die-proses

Foto Krediet: Solidariteit

Bela: Waar trek die proses?

Deur dr. Dirk Hermann

Solidariteit se stryd teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) se artikels 4 en 5 duur voort. Daar sal beslis teen die gegewe sperdatum ʼn gesamentlike oplossing gevind word. Op die oomblik is vier prosesse aan die gang. Eerstens voer ons gesprekke met die verskillende politieke partye. Almal het nou ons insette.

Tweedens is daar die gesprekke wat in die geledere van die regering van nasionale eenheid (RNE) plaasvind. ʼn Tweede vergadering van hul subkomitee oor die aangeleentheid het reeds plaasgevind. Ons het met die meeste partye gepraat. Dié komitee se verslag word vandeesweek verwag.

Derdens is ʼn proses by Nedlac aan die gang waaraan Solidariteit deelneem. Dit gaan goed daar en ons is in ernstige gesprekke in daardie forum gewikkel.

Laastens vergader ons gedurende die laaste week van November by Pansat op hul versoek. Ons het ʼn stewige voorlegging voorberei en ons verwag ʼn goeie uitkoms na aanleiding van die gesprekke.

Dankie aan almal! Die optog en alles rondom die optrede die dag het ʼn geweldige positiewe invloed vir ons as onderhandelaars bewerkstellig, en dit verleen meer gesag aan ons in die onderhandelinge. Dit het die nodige punt van spanning geskep. Ons het die magsvertoon nodig gehad. Die visuele uitwerking van die optog was kragtig.

13 Desember is om die draai. As ek kyk na al die vordering wat in die verskillende prosesse gemaak word, is ek positief dat die twee gewraakte artikels 4 en 5 nié op 13 Desember in werking gestel gaan word nie. Die stryd sal nog nie gewonne wees nie, maar die eerste belangrike taktiese mylpaal sal behaal wees.

Ek hou julle op hoogte.

Groete

Dirk

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel