loading
Artikels
1 dag gelede
solidariteit-maatskaplikewerkersnetwerk-bied-nog-n-suksesvolle-werkwinkel-aan

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk bied nóg ʼn suksesvolle werkwinkel aan

Deur Heléne Mocke

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk het ʼn werkwinkel aangebied waar meer as 80 maatskaplike werkers die kern van kindergebaseerde praktyk ondersoek het. Die tema van hierdie werkwinkel was “Die stem van die kind” en die gesogte sprekers en ervare maatskaplike werkers, dr. Louise Aucamp wat die opleiding in Centurion aangebied het, en Esna Bruwer wat die opleiding in Bellville aangebied.

Hierdie praktiese sessie is spesifiek ontwikkel om professionele persone, insluitend maatskaplike werkers, terapeute, opvoeders en ander wat met kinders werk, toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om nie net kinders se stemme te hoor nie, maar ook doeltreffend te verteenwoordig. 

Dr. Aucamp het beklemtoon dat kinders dikwels nie die vermoë of platform het om hul eie behoeftes en ervarings uit te druk nie, veral in moeilike situasies soos gesinsdinamika of regstelsels waar hul belange in die weegskaal is. Sy het aan die hand van praktiese voorbeelde en interaktiewe oefeninge verduidelik hoe professionele persone kinders op ʼn etiese en empatiese wyse kan benader. 

Bruwer het die teoretiese aspekte van die opleiding aangebied en uitgebrei oor die kompleksiteit van kinderregte en om die regte reg toe te pas en te hanteer.

Die werkwinkel het spesifiek gefokus op hoe om kinders se betrokkenheid en deelname in verskillende kontekste te bevorder, terwyl goeie praktyke en etiese riglyne gehandhaaf word. Deelnemers het insig gekry in die belangrikheid daarvan om kinders se regte en emosionele welstand eerste te stel, asook die vaardighede om te verseker dat kinders se stemme gehoor word in besluite wat hul lewens raak. 

Hierdie tipe opleiding is ʼn noodsaaklike bydrae tot die ontwikkeling van maatskaplike werk as ʼn beroep in Suid-Afrika. Dit rus professionele persone toe om nie net aan kinders se fisiese behoeftes aandag te gee nie, maar ook hul emosionele belange en regte te beskerm en te bevorder. 

Deur kinders se stemme in ag te neem en hul deelname in belangrike besluite te bevorder, kan professionele persone help om veiliger en gesonder gesin- en gemeenskapomgewings te skep. Hierdie benadering bevorder ʼn sin van selfwaarde en respek vir kinders as volwaardige deelnemers in hul eie lewens. 

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is trots daarop om sulke inisiatiewe aan te bied en sodoende tot die bevordering van professionele standaarde en ondersteuning aan kinders in Suid-Afrika by te dra. Solidariteit sien daarna uit om op hierdie sukses voort te bou en toekomstige geleenthede vir opleiding en ontwikkeling te bied.  Klik hier en sluit vandag nou by Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk aan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel