Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Dobbelkrisis: die stille monster wat salarisse in SA verslind
Deur Leré Nel
ʼn Skokkende navorsingsverslag oor aanlyn dobbel onthul die ware omvang van die probleem in Suid-Afrika.
“Let ʼn bietjie op as jy van die werk af huis toe ry of as jy winkels toe ry,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) en opsteller van die verslag. “As jy eers uitkyk daarvoor, sien jy die advertensies oral. En dit word glad nie gereguleer nie.”
ʼn Salaris is meer as vergoeding vir werk; dit betaal vir kos, behuising en kinders se skoolopleiding. Dit stel ʼn gesin in staat om vir die toekoms te beplan. Wanneer daardie inkomste deur dobbelverliese weggekalwe word, kom die bestaansveiligheid waarvoor iemand elke dag werk, onder bedreiging.
Daarom het die SNI besluit om dieper te delf en hom te beywer vir optrede teen die groeiende aanlyn dobbelkrisis. Die beskerming van werkende mense se belange strek verder as beskerming in die werkplek: dit sluit ook die inkomste in waarvan hul gesinne afhanklik is.
Wanneer harde werk se opbrengs verdwyn
“Ons veg elke dag vir ons lede se werk, hul salarisse en hul bestaansveiligheid. Dit help egter min as mense hard werk om ʼn inkomste te verdien, net om te sien hoe dit deur dobbelverliese uitgewis word,” sê Du Buisson.
Volgens die verslag het aanlyn dobbel tussen 2021 en 2025 met 390% gegroei. In die 2024-’25-boekjaar is sowat R1,5 biljoen (ʼn duisend miljard) in die totale dobbelbedryf verwed, waarvan byna driekwart aanlyn. Hierdie bedrag sluit herhaalde weddenskappe met dieselfde geld in en verteenwoordig dus nie huishoudings se werklike verliese nie. Ná uitbetalings het operateurs egter R74,5 miljard in bruto dobbelinkomste oorgehou.
Du Buisson het tydens ʼn mediakonferensie op 12 Oktober 2026 verduidelik dat finansiële wanhoop mense na dobbel kan dryf.
“Wanneer iemand reeds glo hul salaris kan nie al hul maandelikse uitgawes dek nie, raak die belofte van vinnige geld aanloklik. Verliese – wat volgens die statistiek baie meer voorkom as winste – kan die finansiële druk egter vererger en tot verdere skuld lei,” verduidelik hy.
“Ons wil nie net beskerm wat mense verdien nie. Ons wil ook help beskerm wat hulle met daardie inkomste vir hul gesinne kan opbou,” sê hy.
Die skade is enorm
Volgens Nicolien Welthagen, sielkundige navorser by die SNI, raak mense maklik vasgevang in ʼn siklus van hoop en verlies. Die verwagting dat die volgende weddenskap alles sal regmaak, kan hul besluitneming beïnvloed. Skaamte en skuldgevoelens maak dit moeiliker om hulp te soek, terwyl aanlyn toegang tot dobbelplatforms dit té maklik maak om ʼn dobbelverslawing geheim te hou en vir lank in die siklus vasgevang te word.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê ook dat dit bloot wreed is om aanlyn dobbelplatforms te bemark aan dié wat die mees kwesbaar daarvoor is.
“Hierdie advertensies staan lewensgroot by die ingang van plakkerskampe, voor ouetehuise en by plekke waar Sassa-toelaes uitbetaal word. Dit is blatante uitbuiting van mense wat reeds desperaat is, en dit moet stop!” sê hy.
Beskerming verg optrede
Solidariteit se betrokkenheid by dié kwessie gaan daarom oor die beskerming van die waarde van mense se arbeid en die toekoms wat hulle daarmee probeer bou.
Die organisasie wil die verslag gebruik om groter beheer oor dobbeladvertensies, beter beskerming van kwesbare persone en doeltreffender regulering te bevorder. Du Buisson het beklemtoon dat individuele verantwoordelikheid belangrik bly, maar dat die omvang van die probleem breër optrede noodsaak.
Werk behoort mense in staat te stel om vooruit te gaan – nie om ʼn vernietigende verslawing te voed nie. Deur die dobbelkrisis aan te spreek, beywer Solidariteit hom daarvoor dat mense se swaarverdiende inkomste die regte doel bly dien.
Lees die volledige verslag hier.
Kyk ook hier na die volledige mediakonferensie, waar Du Buisson, Noëth en Welthagen die verslag bespreek.