loading
Artikels
1 jaar gelede
drie-sleutels-tot-slim-vakkeuses

Foto Krediet: OkayDeer

Ontdek die drie sleutels tot slim vakkeuses

Elmien Ackerman

In graad 9 lê die opwindende vooruitsig voor om vakkeuses te maak. Om vakke vir die volgende drie jaar te kies, is sekerlik die belangrikste besluit wat jou kind tydens sy of haar skoolloopbaan gaan neem. Daarom het Solidariteit drie hulpbronne ontwikkel om te verseker dat jou kind die regte vakke kies.

Sleutel 1: Die Belangstellingsbepaler

Om jou kind se belangstellings te bepaal is ʼn noodsaaklike deel van die vakkeuseproses én om ʼn toekomstige loopbaan te kies. Solidariteit se Belangstellingsbepaler is deur bedryfsielkundiges ontwikkel en sal jou kind help om hul belangstellings te identifiseer. Klik hier om die gratis aanlyn vraelys te voltooi.

Sleutel 2: Loopbaanvoorligters

As jou kind ná voltooiing van die Belangstellingsbepaler steeds onseker is oor hul vakkeuse is die volgende stap om psigometriese toetse by ʼn loopbaanvoorligter, opvoedkundige sielkundige of ʼn psigometris af te lê. Die psigometriese toetse sal jou en jou kind meer insig gee oor hul unieke aanlegte, vaardighede en karaktereienskappe. Klik hier om ʼn loopbaanvoorligter naby jou te vind.

Sleutel 3: Die #VakKeuses-portaal

Solidariteit se splinternuwe #VakKeuses-portaal bied jou en jou kind ʼn uitgebreide blik op verskeie vakke en die onderskeie beroepsgeleenthede wat daarmee gepaard gaan. Danksy die meer as 30 video’s kan julle die inhoud van die verskeie vakke beter verstaan om só die regte vakke vir jou kind te kies.

Die reeks video’s is nie beperk tot die tradisionele akademiese vakke nie en dek ʼn wye spektrum van belangstellings en aanlegte om te verseker dat jou kind relevante inligting kry. Die portaal sluit video’s oor die volgende in:

  • Tale
  • Wiskunde
  • Wetenskappe
  • Besigheid en Toerisme
  • Kuns en Kultuur
  • Tegniese vakke
  • Landboubestuurspraktyke
  • Inligtingstegnologie en Ontwerp

Die boeiende videoformaat en die feit dat die video’s deur hul portuurgroep aangebied word, maak die inligting toeganklik en maklik vir jou kind om te verstaan.

Vra die regte vrae om die beste besluit te neem

Die oulike video’s fokus nie net daarop om antwoorde te gee nie, maar ook om die regte vrae te stel. ʼn Paar van die belangrike vrae wat in die video’s beantwoord word, sluit in:

  • Wat behels die spesifieke vak? Kry ʼn duidelike beeld van die vak se inhoud, leerbenadering en die betrokke werklading. Dit stel jou kind in staat om te besluit of hul belangstellings met die vak se inhoud ooreenstem.
  • Wie sal van hierdie vak hou? Die video’s ondersoek die persoonlikheidseienskappe en vaardighede wat goed by ʼn spesifieke vak pas. Hierdie selfrefleksie kan jou kind help om vakke te identifiseer wat by hul natuurlike talente en passie aanklank vind.
  • Watter beroepsgeleenthede bied die vakgebied? Die video’s verken die opwindende loopbaanopsies wat die verskillende vakkeuses kan ontsluit.

Besoek die #VakKeuses-portaal

Deur duidelike, boeiende inligting te raadpleeg en die verskillende loopbaanopsies te verken, kan jy jou kind bemagtig om ingeligte vakkeuses te maak en hul volle potensiaal te bereik. Ontdek die opwindende moontlikhede wat op jou kind wag en besoek https://solidariteit.co.za/vakkeuses. Die #VakKeuses-portaal is gratis aanlyn beskikbaar.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel