
Foto Krediet: Solidariteit | Evan du Preez
Gekopieër
Elke droom begin met ʼn idee – om dit te leef vra egter meer as net wilskrag
Deur Evan du Preez, Solidariteit-intern
Vir baie jong mense is die grootste struikelblok nie hulle droom self nie, maar hoe om dit te finansier. Wat gebeur as jy die werk insit, plek by die universiteit kry… maar nie die geld het nie? Hierdie is my storie, en moontlik ʼn oplossing vir jou.
Ek het ʼn droom gehad. Soos elke jong mens iewers in hul lewe, moes ek stil sit en die wêreld om my bekyk totdat ek my plek daarin kon vind. Dit het lank geduur, en soos elke ouer met ʼn kind sal sê: Dit is een van die moeilikste keuses om te maak. Niemand kan vir jou sê waar jy inpas nie; niemand kan vir jou sê in watter deel van die legkaart jy behoort nie. Maar diep binne elke leerder, elke kind, elke persoon wat hierdie stukkie lees, is of was daar ʼn droom. Ek was geen uitsondering op die reël nie.
Ek het ʼn droom gehad. Na ʼn noukeurige soektog ver en wyd, het ek my plek gevind. Ek het my deel van hierdie legkaart van die lewe ontdek. Ek wou Regte studeer om mense wat deur misdaad geraak is, te help. Ek wou my verstand en vaardighede gebruik om te veg vir die “underdog”, vir dié wat nie weet na wie hulle kan draai in tye van nood nie. Ek wou mense beskerm en ondersteun. Ek is van nature ʼn beskermende persoon. Ek het hard gewerk en geleer. Ek is by die Universiteit van Pretoria toegelaat – na my mening het ek die moeilikste deel van die pad na my droom agter die rug.
Tog was daar een hindernis wat niemand sou sien aankom nie – nie ek nie, en nie ʼn enkele mens in die wêreld nie. Ek kry nou nog rillings as ek dink aan daardie tyd. Ek praat natuurlik van Covid-19.
Ek het in 2019 met my studie aan die Universiteit van Pretoria begin. Ek het ʼn toekoms in die regsveld nagestreef. Die kombinasie wat ek gekies het, was ʼn BA in Regte, met hoofvakke in Sielkunde en Kriminologie. Ek het ʼn droom asook ʼn plan gehad om daarby uit te kom – ek het net die befondsing nodig gehad. Ek was in ʼn geseënde posisie voor Covid-19 dat my pa in staat was om my volle studiegeld by die Universiteit van Pretoria te kon betaal.
Toe Covid-19 ons getref het, het ons egter byna alles verloor. Ek moes in my tweede jaar opskop toe die pandemie ons daaglikse lewe totaal verander het.
Vir twee jaar het ek gewerk waar ek kon – in koffiewinkels, by skole, enige iets wat ek in die hande kon kry. Ek het geveg vir my toekoms met alles in my. En toe, na baie gesukkel, kon ek danksy Solidariteit se inligting oor al die opsies vir studieondersteuning uiteindelik terugkeer na my studie.
As ek een ding vir my jonger self kon sê, sou dit wees: Jy hoef nie alleen te baklei nie. Daar ís hulp daarbuite. Ek wens net ek het dit vroeër geweet.
Jy hoef nie eers te wag vir dinge om verkeerd te gaan nie. As jy weet jou ouers gaan nie jou studie kan bekostig nie, begin nou al na alternatiewe opsies kyk. Solidariteit gee vir jou toegang tot inligting van studieondersteuning, met meer as 40 instellings wat opsies vir studiebeurse en -lenings bied en wat regtig studente wil help.
Of jy nou regte, onderwys, ingenieurswese of enigiets anders wil studeer – daar is ʼn manier, maar jy moet die werk in sit om die moontlikhede te ontdek.
Moenie wag totdat dit te laat is nie. Leer uit my storie. Besoek Solidariteit se studieondersteuningsblad hier. Neem jou toekoms vandag nog in jou eie hande!