loading
avatar
Artikels
3 dae gelede
emosionele-intelligensie-die-sleutel-tot-n-beter-verstandhouding-met-gen-z-werknemers

Foto Krediet: OkayDeer

Emosionele intelligensie: Die sleutel tot ʼn beter verstandhouding met Gen Z-werknemers

Deur Essie Bester

Elke generasie bring iets uniek na die werkplek, maar min geniet tans soveel aandag soos Gen Z, en met goeie rede. Hierdie generasie het grootgeword in ʼn wêreld wat gevorm is deur onsekerheid, digitale oorlading en konstante verandering. Hulle is van jongs af aan ʼn wêreldwye vloei van inligting, kultuur en maatskaplike kwessies blootgestel. Dus verskil hul behoeftes en verwagtinge beduidend van dié van vorige generasies in die werkplek.

Kenners reken dat Gen Z besig is om tradisionele werkpleknorme te herskryf – en baie leiers voel onvoorbereid daarvoor. ʼn Onlangse artikel op LinkedIn wys dat nuwe navorsing toon dat 75% van bestuursleiers sukkel om aan Gen Z-werknemers se verwagtinge te voldoen. Met hul begeerte na vinnige loopbaanbevordering en betekenisvolle werk, asook hul voorkeur vir informele kommunikasie en hul besorgdheid oor emosionele welstand, daag Gen Z konvensionele leierskapsmodelle uit.

Hierdie generasie – gebore tussen 1997 en 2012 – is uniek in hul prioritisering van geestesgesondheid, werk-lewe-balans en maatskaplike verantwoordelikheid. Anders as vorige generasies wat dikwels aan rigiede hiërargieë en onuitgesproke reëls voldoen het, verwag Gen Z-werknemers deursigtigheid, inklusiwiteit en buigsaamheid. Hulle heg groot waarde aan egtheid en soek betekenisvolle verbintenisse met hul kollegas en leiers. Geestesgesondheid en welstand – hul eie en dié van ander – geniet ook hoë prioriteit.

Hierdie ingesteldheid kan egter bots met tradisionele korporatiewe omgewings waarin doeltreffendheid en produktiwiteit dikwels voorrang bo emosionele welstand geniet. Bestuurders wat nie emosionele intelligensie (EI) as deel van hul leierskapstyl inkorporeer nie, kan maklik met frustrasie en hoë personeelomset te doen kry.

Bestuurders met ʼn tekort aan EI is geneig om Gen Z-werknemers as aanmatigend of onvoorbereid vir die realiteite van werkplek te beskou. Hierdie spanning spruit dikwels uit ʼn generasiegaping in kommunikasie en waardes. Waar ouer generasies Gen Z se begeerte aan gereelde terugvoer en duidelike kommunikasie soms as ʼn gebrek aan selfstandigheid sien, beskou Gen Z dit eerder as ʼn teken van betrokkenheid en ʼn verbintenis tot groei.

In plaas daarvan om terug te val op rigiede bestuurstyle wat jonger werknemers vervreem en die siklus van ontkoppeling en personeelomset voortsit, behoort leiers te besef dat Gen Z se eise nie noodwendig daarop dui dat hulle aanmatigend is nie, maar eerder dat dit ʼn veranderende wêreld weerspieël waarin werknemers na meer as net ʼn salaristjek soek.

Vir leiers wat bereid is om hul bestuurstyl by Gen Z se verwagtinge aan te pas, is daar ʼn unieke geleentheid om werkplekkultuur te bevorder wat almal bevoordeel. Dit verg insig in Gen Z se unieke eienskappe, sowel as praktiese strategieë om jong werknemers effektief te ondersteun en hedendaagse werkplekuitdagings aan te pak.

Gen Z se voorkeur vir digitale kommunikasie, soos kitsboodskappe en sosiale media, is maar een van die faktore wat ontkoppeling en misverstande tussen generasies kan veroorsaak. Ouer generasies verkies dikwels direkte, aangesig-tot-aangesig- of telefoniese kommunikasie, wat spanning in samewerking kan skep.

Van die negatiewe aspekte wat soms aan Gen Z toegeskryf word, sluit in korter aandag wat aan ʼn spesifieke taak gegee word, en ʼn geneigdheid om gereeld van werk te verander. Om dit te bekamp en personeelbehoud te bevorder, sal bestuursleiers doelbewus innemende werkomgewings en duidelike loopbaangroeigeleenthede moet skep.

Oorbrug die gaping met emosionele intelligensie

Die suksesvolle integrasie van Gen Z in die werkplek vereis dat leiers emosionele intelligensie aktief in hul bestuurstyl toepas. Dit stel leiers in staat om te verstaan wat agter werknemers se gedrag en verwagtinge lê, en om op maniere te reageer wat konneksie eerder as konflik bevorder.

  • Beoefen empatie: Ruim doelbewus tyd in om die unieke perspektiewe en uitdagings van Gen Z-werknemers te verstaan. Erken hul prioriteite, soos geestesgesondheid en werk-lewe-balans, en vind praktiese maniere om hulle daarin te ondersteun.
  • Bevorder oop kommunikasie: Skep ʼn omgewing waar terugvoer beide kante toe vloei. Gen Z-werknemers waardeer gereelde, konstruktiewe terugvoer en wil gehoor voel. Aktiewe luister en opregte reaksies is van kardinale belang.
  • Pas aan by hul waardes: Omarm buigsaamheid, inklusiwiteit en deursigtigheid. Dit kan beteken dat jy verouderde beleide moet hersien en nuwe maniere moet vind om werknemers deur doelgedrewe werk te betrek.
  • Lei deur voorbeeld: Demonstreer emosionele intelligensie in jou eie optrede. Toon kwesbaarheid, erken foute en modelleer die soort selfbewustheid en empatie wat jy van jou span verwag.

Gen Z se fokus op emosionele intelligensie is ʼn kragtige dryfveer vir positiewe transformasie in die werkplek. Leiers wat EI prioritiseer en bereid is om Gen Z se waardes te implementeer, kan meer veerkragtige, samewerkende en innoverende spanne skep. Emosionele intelligensie bevorder nie net personeelbehoud nie, maar skep ook ʼn omgewing waarin alle werknemers gewaardeer en bemagtig voel.

Namate emosionele intelligensie in die werkplek al hoe belangriker word, is dit duidelik dat dit nie bloot nóg ʼn sogenoemde “sagte vaardigheid” is nie, maar ʼn kernleierskapvermoë wat noodsaaklik is om die kompleksiteite van die moderne werkplek te bestuur.

Solidariteit se aanlyn e-leerkursus oor Emosionele Intelligensie en Konflikbestuur, aangebied deur Marjón Meyer, bedryfsosioloog en mensekapitaalkonsultant, is een kursus waarby jy beslis kan baat.

Skep vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit, koppel jou lidmaatskap en neem jou toekoms met selfvertroue in jou hande!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel