loading
Artikels
8 uur gelede
jong-werkende-oorleef-so-die-96-dae-van-januarie

Foto Krediet: OkayDeer

Jong werkende, oorleef só die 96 dae van Januarie

Deur Maryna Eksteen 

Januarie is gewoonlik die maand waarin Afrikaners die meeste grappies vir mekaar aanstuur. Grappies soos “Januarie voel soos ʼn dubbel Wiskundeperiode op ʼn Vrydag” of “Januarie het 96 dae”. Wanneer jou geld min is, kan jou volgende betaaldag beslis baie ver voel. Vir die meeste Suid-Afrikaners is dit ʼn tyd van finansiële druk.  

Wat as jy egter hierdie Januarie ʼn verskil kan maak deur slim finansiële beplanning en ʼn doeltreffende begroting? Solidariteit bied ʼn interaktiewe kursus aan wat jou kan help om jou geldsake beter te bestuur.  

Hier is ʼn paar wenke uit Solidariteit se “Begroting vir jong werkendes”-kursus om jou te help om jou volle potensiaal te bereik en in Januarie finansieel sterker te staan. 

1. Stel realistiese finansiële doelwitte 

Begin met ʼn duidelike idee van wat jy met jou finansies wil bereik. Bepaal jou korttermyn- en langtermyndoelwitte en hou dit in gedagte wanneer jy jou begroting opstel. Maak seker jou doelwitte is haalbaar en meetbaar. 

2. Oorweeg jou inkomste en uitgawes

ʼn Goeie begroting begin met die begrip van jou inkomste en uitgawes. Hou rekord van jou vaste uitgawes (soos huur en vervoer) en veranderlike uitgawes (soos vermaak en klere). Hierdie insig help jou om beter besluite te neem oor hoe en waar jy geld kan spaar. 

3. Begin met ʼn spaarsplan 

Selfs al spaar jy net ʼn klein bedrag elke maand, word dit mettertyd meer. Stel ʼn aparte rekening oop vir jou spaargeld en hanteer dit soos enige ander rekeningverpligting. Solidariteit se kursus gee wenke oor hoe om te begin en hoe om konsekwent met jou spaarplan te bly. 

4. Beheer impulsiewe besteding 

Almal hou van ʼn bederf, maar impulsiewe aankope kan jou begroting verwoes. Leer om “nee” te sê vir onnodige uitgawes, veral in Desember, sodat jy in Januarie ʼn bietjie kan asemhaal. Die kursus bied raad oor hoe om bewuste besteding te prioritiseer. 

5. Gee aandag aan skuld 

Skuld kan ʼn groot las wees, en dit verminder jou beskikbare kontantvloei. Werk volgens ʼn plan om jou skuld af te betaal, veral skuld met hoë rente. Deur hierdie strategie te volg, sal jy uiteindelik meer geld vir ander belangrike uitgawes oorhê. Jy kan ook hier lees hoe jy jou leefstyl in 12 stappe kan vereenvoudig.  

6. Hou ʼn “noodfonds” vir die onverwagte 

ʼn Noodfonds is noodsaaklik – dit bied beskerming teen onverwagte uitgawes. Probeer om ten minste drie maande se lewenskoste vir noodgevalle opsy te sit. Hierdie reserwe help jou om te verhoed dat jy weer skuld moet aangaan wanneer iets skeef loop. 

7. Voltooi ʼn kursus vir beter finansiële insig 

Bereik jou volle potensiaal deur Solidariteit se gehalte-kortkursus te voltooi, wat jou sal help om geld te verstaan en slim besluite te neem. Hierdie kursus is ontwerp om jong werkendes met die noodsaaklike finansiële vaardighede toe te rus sodat hulle hul begrotings kan optimaliseer en hulle salaris ten volle kan benut. 

Deur hierdie stappe te volg en gebruik te maak van die inligting wat Solidariteit se leerkursus bied, word jy bemagtig om jou finansiële lewe te verander en die selfvertroue te hê om die nuwe jaar finansieel slim te begin, terwyl ander moontlik nog van 2024 sal moet herstel.  

Solidariteit-lede het gratis toegang tot hierdie kursus en nagenoeg 150 ander. Skep jou gratis profiel, koppel jou lidmaatskap en bereik finansiële vryheid in 2025!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel