loading
Artikels
6 uur gelede
waarom-werkservaring-net-so-belangrik-is-soos-n-tersiere-kwalifikasie

Foto Krediet: OkayDeer

Waarom werkservaring net so belangrik is soos ʼn tersiêre kwalifikasie

Werkservaring dra net soveel gewig as ’n tersiêre kwalifikasie. Hierdie artikel dek waarom werkservaring so waardevol is en waarom mense wat by hulle werkplek betrokke is, suksesvol is. Solidariteit bied ook verskeie voordele wat jong mense kan ondersteun om sukses te behaal sonder ʼn tersiêre kwalifikasie. Lees meer.


Deur Reon Janse van Rensburg

Baie jong mense sien die verwerwing van hulle tersiêre kwalifikasie as die eindpunt van sukses. Hulle glo dat ʼn kwalifikasie op sigself genoeg is om hulle loopbaan vinnig momentum te gee. Alhoewel ʼn graad- of ander tersiêre kwalifikasie ʼn waardevolle bousteen is, is werkservaring dikwels die ware maatstaf van sukses in die werkplek. In ʼn wêreld waar praktiese vaardighede en aanpasbaarheid hoog aangeslaan word, kan werkservaring ʼn kandidaat van ander kandidate met soortgelyke kwalifikasies onderskei.

Wat maak werkservaring so waardevol?

Deur werkservaring leer jy dinge wat jy eenvoudig nie uit ʼn handboek kan leer nie. Dit is in die regte wêreld waar jy leer hoe om met mense saam te werk, jou werktyd effektief te bestuur en probleme op te los. Dít is vaardighede wat jy nie in ʼn handboek gaan teëkom nie. Hierdie tipe vaardighede, bekend as “sagte vaardighede,” is van onskatbare waarde in die werkplek, en kan net deur praktiese blootstelling ontwikkel word.

Werkservaring toon aan ʼn werkgewer dat jy nie net die teorie van jou vakgebied verstaan nie, maar ook weet hoe om dit in die praktyk toe te pas. Dit wys dat jy in ʼn werksomgewing kan funksioneer, onder druk kan presteer en ʼn bydrae kan lewer.

Betrokkenheid bo kwalifikasie

Hoewel akademiese kwalifikasies steeds ʼn rol speel, is betrokkenheid by die werkplek en die bereidwilligheid om te leer dikwels belangriker. Jong mense wat betrokke raak in die wêreld van werk deur internskappe of om vrywillige werk of selfs deeltydse werk te doen, kry die geleentheid om hulle voet in die deur te kry en waardevolle kontakte op te bou. Dit is hierdie ervarings wat die grondslag vir toekomstige sukses lê.

Solidariteit se rol in die proses

Solidariteit erken die waarde van werkservaring en ondersteun jong werkendes deur praktiese hulpmiddele soos mentorskappe en toegang tot beroepsnetwerke tot hulle beskikking te stel. Hierdie inisiatiewe is spesifiek ontwerp om jong mense te help om hulle vaardighede te ontwikkel en waardevolle ervaring op te doen.

Solidariteit glo vas dat ʼn mentorskapprogram een van die beste maniere is om die werkplek te leer ken. Deur ʼn mentor te hê, kry jong werkendes toegang tot waardevolle kennis en insigte wat slegs deur ervaring opgedoen word.

Solidariteit se mentorskapprogram bied aan jong werkendes die unieke geleentheid om deur waardevolle vaardighede en insigte te bekom wat hulle loopbaan kan versterk. Die program verbind jong mense met mentors in hulle spesifieke beroep. Die mentors deel hulle kennis en ervaring wat direk van toepassing is op die jong werkende se behoeftes met die jong werkende, of dit harde- of sagtevaardighede is. So ʼn program duur normaalweg vier tot ses maande en dit kan aanlyn of persoonlik plaasvind, afhangend van sowel die mentor as die jong werkende se ligging en voorkeure.

Mentors help jong werkendes om vinniger in hulle beroep te ontwikkel en bied leiding oor hoe om beter in die werkplek te presteer. Die program bied ook toegang tot waardevolle beroepsnetwerke, wat jong werkendes nie net blootstel aan vaardighede nie, maar ook netwerkgeleenthede aan hulle bied wat hulle loopbaan verder kan bevorder. Hierdie netwerke is ʼn uitstekende platform om uit te vind wat die nuutste tendense in ʼn spesifieke beroep is en om nuwe geleenthede raak te sien. Die voordeel van ʼn netwerk lê nie net daarin om kontak met ander mense in jou beroep te maak nie, maar ook om van ander se ervarings te leer.

Vir mentors bied die program ʼn geleentheid om hul kennis terug te ploeg en dit is bevredigend vir hulle om te sien hoe jong werkendes in hulle beroep groei en vorder.

Die program is gratis vir Solidariteit-lede en die doel daarvan is om ʼn sterk kringloop van kennisdeling te bou wat jong werkendes bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik en suksesvol in ʼn mededingende werksomgewing te wees.

Die balans tussen teorie en praktyk

Hoewel die verwerwing van ʼn graad of ʼn ander tersiêre kwalifikasie uiteraard belangrik is, bied werkservaring ʼn praktiese dimensie wat akademiese kwalifikasies op hulle eie nie kan bied nie. Jong werkendes moet ʼn balans vind tussen die twee deur aan te hou leer, maar ook deur praktiese geleenthede aan te gryp. Internskappe, vrywillige werk en die benutting van geleenthede soos wat Solidariteit se beroepsnetwerke bied, kan help om hierdie balans te bewerkstellig.

Sukses in die werkplek is nie net gebaseer op wát jy weet nie, maar ook op hóé jy daardie kennis toepas. Werkservaring rus jou toe om uitdagings aan te pak, aan te pas by verskillende omgewings en waardevolle praktiese vaardighede te ontwikkel. Gryp dus elke kans aan om werkservaring op te doen – dit is jou ware sleutel tot sukses.

Solidariteit stap die volledige loopbaanpad saam met jou. Sluit aan by ʼn organisasie wat werklik wil sien dat jy in die werkplek groei en floreer. Skep jou gratis profiel hier vir ʼn vrye, veilige en voorspoedige toekoms.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel