Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Is jy ʼn spanspeler of ʼn alleenspeler? Hoe om jou plek in ʼn span te vind
Is jy iemand wat maklik met ander saamwerk in ʼn span? Vir sommige mense is hierdie vaardigheid van nature ingebore. Ander sukkel nou weer om in te pas in ʼn spandinamika. Jy sal waarskynlik in jou loopbaan gekonfronteer word met verskillende werkstyle en spansituasies en hierdie artikel kan jou help om daardie vaardigheid – om effektief in ʼn span saam te werk – te slyp.
Deur Reon Janse van Rensburg
Jy sal waarskynlik in elke werksomgewing mense teëkom wat maklik met ander werk en wat met hulle idees en vaardighede tot die span bydra, terwyl ander dalk ʼn meer onafhanklike benadering verkies. Hoe bepaal jy egter waar jý inpas – is jy ʼn spanlid of ʼn alleenspeler, en hoe kan selfrefleksie jou help om jou plek in ʼn span te vind?
Selfrefleksie en jou bydrae tot die span
Selfrefleksie is die proses van inwaartse nadenke oor jou eie gedrag, waardes en reaksies. Dit help jou nie net om jouself beter te verstaan nie, maar ook om jou rol in ʼn span te identifiseer. Wanneer jy in ʼn span werk, is dit belangrik om te besef watter sterkpunte jy na die tafel bring, maar om ook te besef wat jou swakpunte is. Selfrefleksie bied jou die gereedskap om jouself te verbeter en effektief tot die span by te dra.
Vra jouself die volgende af:
- 1. Hoe werk ek op my beste – alleen of saam met ander?
- 2. Wat is my sterkpunte, en hoe kan ek dit in ʼn span aanwend?
- 3. Hoe kan ek verbeter om ‘n waardevolle spanlid te wees?
Deur jou eie gedrag en interaksie met ander te verstaan, kan jy jou plek in ʼn span vind waar jy effektief is en waar jy jou bydrae kan optimaliseer.
Kommunikasie is die sleutel tot effektiewe spanwerk
Een van die belangrikste aspekte van spanwerk is kommunikasie. Of jy nou in ʼn leierskaprol is of as ʼn spanlid werk, die manier waarop jy jou idees en menings kommunikeer, is deurslaggewend vir die span se sukses. Kommunikasie gaan nie net oor praat nie, maar ook oor luister en begryp. ʼn Span werk op sy beste wanneer alle lede aktief aan die gesprek deelneem en hul perspektiewe deel.
Die kursus, Kommunikasie in jou werkplek, wat deur Solidariteit aangebied word, behandel verskeie maniere van kommunikasie wat belangrik is vir ʼn gesonde werkplek. Die kursus dek onderwerpe soos digitale voorleggings, vergaderings en formele korrespondensie, en fokus op die verwerwing van vaardighede om jou idees en menings duidelik en professioneel te kommunikeer. Hierdie kursus kan jou help om jou kommunikasievaardighede te verbeter en jou plek in ʼn span vol te staan.
Wat is jou rol in die span?
Verskillende tipes spanlede kan in ʼn span onderskei word: Sommige lede funksioneer beter in ʼn leierskaprol, terwyl ander weer effektief is as ondersteunende lede. Selfrefleksie sal jou help om uit te vind watter tipe spanlid jy is en wat jou sterkpunte is. Jy kan dalk die rol van die fasiliteerder vervul, iemand wat die span help om doeltreffend te werk en idees in te win, of dalk is jy die persoon wat dit regkry om probleme vinnig op te los, en dan is jou probleemoplossingsvaardighede van onskatbare waarde vir die span. Hoe dit ook al sy, as jy weet wat jou sterkpunte is, kan jy jou rol in die span effektief vervul.
Selfrefleksie en groei
Deur gereelde selfrefleksie sal jy jou gedrag, jou interaksie met ander en jou bydrae tot die span kan evalueer. Dit sal jou help om nie net jou eie doelwitte te bereik nie, maar om ook die span se algehele prestasie te verbeter. As jy nie heeltemal seker is oor wat jou rol is nie, kan dit help om jou medespanlede vir terugvoering te vra oor hoe jy die span kan ondersteun. Selfrefleksie is nie ʼn eenmalige proses nie – dit is iets wat deurlopend moet plaasvind om jou rol in die span te versterk en te verseker dat jy die beste bydrae lewer.
Of jy ʼn spanlid of ʼn enkelspeler is, die sleutel tot die sukses van enige span lê in die vermoë om jou plek te identifiseer en jou sterkpunte in te span. Selfrefleksie, tesame met effektiewe kommunikasievaardighede, sal jou help om nie net jou eie werkdoelwitte te bereik nie, maar ook om die span se sukses te bevorder. Solidariteit se kursus, Kommunikasie in jou werkplek, bied jou die nodige gereedskap om jou kommunikasievaardighede te verbeter, jou rol in die span te ontdek en jou bydrae optimaal te maak.
Hierdie kursus, en talle ander, is gratis beskikbaar vir lede van Solidariteit onder “Leer” op die platform, Solidariteit. Deur sy kursusaanbod bemagtig Solidariteit sy lede om werklik te floreer in die werkplek. Skep jou gratis profiel op Solidariteit, koppel jou lidmaatskap en begin reeds vandag om jou loopbaandoelwitte te bereik!