
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Emosionele ondersteuning in rou: Die maatskaplike werker se rol
Rou is ʼn universele ervaring, maar tog beleef elke mens dit anders. Vir maatskaplike werkers wat kinders en volwassenes in hul diepste pyn ontmoet, is dit ʼn pad wat sorg, insig en kreatiwiteit verg. Dit is egter baie maklik om self tydens hierdie proses uit te brand, maar hoe kan jy dit vermy? Lees hier meer oor hoe jy as maatskaplike werker mense deur verlies kan begelei sonder om self emosioneel uit te brand.
Deur Kyla-Ann du Toit
Rou gaan oor meer as net om hartseer te voel. Dit is ʼn normale, natuurlike en gesonde proses. Rou raak alle aspekte van ons menswees: emosioneel, liggaamlik, gedragsmatig, sosiaal, eksistensieel en spiritueel.
Dr. Nelia Drenth, ʼn maatskaplike werker in privaat praktyk, asook ʼn verlies- en routerapeut, beklemtoon dat rou meer is as net hartseer wees – dit is ʼn proses van aanpassing by ʼn nuwe realiteit, dikwels sonder die persoon of droom wat verlore is. Wanneer kinders en gesinne deur regsprosesse moet gaan, soos hofverhore, egskeidings of pleegsorgsake, word rou dikwels vererger deur sekondêre trauma. Dit is dus belangrik dat maatskaplike werkers die regsproses nie net as administratief sien nie, maar as deel van die kliënt se emosionele reis.
Elke persoon ervaar rou op sy eie manier. “Maatskaplike werkers moet fokus op die kliënt se behoeftes en nie op dit wat hy of sy dink aangespreek behoort te word nie. ʼn Vertrouensverhouding moet gevestig word by beide volwassenes en kinders. ʼn Nie-veroordelende houding is van kritiese belang. Elkeen rou op sy eie manier en teen sy eie tempo,” sê dr. Drenth.
Praktiese tegnieke vir roubegeleiding
Hier is ʼn paar tegnieke wat maatskaplike werkers in hul praktyk kan toepas:
1. Kreatiewe hulpmiddels
Kinders (en selfs volwassenes) sukkel soms om hul emosies in woorde uit te druk. “Ek gebruik graag stories, prente, legkaarte, tekeninge en metafore. Dit help die kind om op ʼn veilige manier sy of haar storie te deel,” sê dr. Drenth.
2. Rou-rituele
Simboliese handelinge, soos om ʼn herinneringsboks te maak, briewe te skryf of ʼn boom te plant, help kliënte om betekenis te gee aan verlies. Dit gee vorm aan iets wat dikwels as vormloos en oorweldigend ervaar word. “Ek vra gewoonlik die kliënt om my voor te stel aan die oorledene. Hoe onthou jy hom of haar die beste. Ek nooi dus die oorledene om deel van die gesprek te word. Gebruik die oorledene se naam, want dit is belangrik in die terapie. Die kliënt moet weet dat hy of sy die sessie rig – die maatskaplike werker is net die begeleier en fasiliteerder,” sê dr. Drenth.
3. Narratiewe ingryping
“Ek werk vanuit ʼn narratiewe perspektief. Ek help die persoon om ʼn betekenisvolle storie te skep rondom die verlies. Hierdie storie sluit die verlore persoon in, maar bied ook hoop vir die toekoms,” verduidelik dr. Drenth. In narratiewe terapie word die fokus geplaas op die vertelling van die verhaal van die verlies, wat ʼn kragtige manier is om die ervaring te verstaan en te verwerk.
Dr. Drenth stel voor dat die kliënt nie net die verlies as ʼn negatiewe gebeurtenis sien nie, maar eerder die hele storie rondom die persoon, die herinneringe en die impak wat die oorledene op hul lewe gehad het, omhels. Hierdie proses help die kliënt om die verlies in ʼn groter konteks te plaas, wat nie net die pyn en hartseer insluit nie, maar ook die liefde, die waarde van die verhouding en die positiewe invloede wat dit gehad het.
“Wanneer jy ʼn storie rondom die verlies skep, kan jy die emosies rondom die verlies erken, maar dit gee jou ook die ruimte om die verhaal te herskryf deur dit met hoop en betekenis te vul,” sê dr. Drenth.
Wat van vasgesteekte of verlengde rou?
Nie alle rou verloop natuurlik nie. In sommige gevalle kan rou “vassteek”, wat beteken dat die persoon nie met die aanpassingsproses kan aangaan nie. Tekens sluit in intense skuldgevoelens, langdurige woede, isolasie of selfs selfdoodgedagtes. “In sulke gevalle moet die maatskaplike werker oorgaan van ondersteuning na terapeutiese ingryping of spesialisverwysing,” sê dr. Drenth.
Trauma en die regstelsel: ʼn bykomende laag tot die pyn
Regsprosesse kan, veral vir kinders, uiters traumaties wees. Die formaliteit, onbekende omgewing en herhaling van die traumatiese storie kan ou wonde oopkrap. Dit is juis hier waar traumasensitiewe voorbereiding van kardinale belang is. “Hulpverlening by rouberaad moet wetenskaplik gefundeerd wees. Rouberaad is nie ‘sommer net’ nie. Die maatskaplike werker moet bewus wees van teorieë en modelle wat beskikbaar is, en dit gebruik,” sê dr. Drenth. Deur speelterapie, rolspel of visuele hulpmiddels kan kinders beter voorberei word vir wat kom – en so ook emosioneel veiliger voel.
Selfversorging: Jou eie lig moet brand
“As jy nie vir jouself sorg nie, raak jy ʼn emosioneel uitgeputte helper. Dit beïnvloed jou doeltreffendheid en jou kliënte kry die skade daarvan,” waarsku dr. Drenth. Selfversorging is nie ʼn luuksheid nie – dit is ʼn professionele noodsaaklikheid. Dit beteken grense stel, ondervraging (‘debriefing’) ná moeilike sessies en ruimte skep vir emosionele herstel.
“Ek glo daaraan dat ek gereeld bestekopnames moet doen en verseker dat ek balans tussen werk, ontspanning, oefening en stokperdjies handhaaf. ʼn Goeie ondersteuningsnetwerk is van kardinale belang, asook gereelde konsultasie en ontlading met kollegas of ʼn professionele persoon,” sê dr. Drenth.
Word deel van jou beroepstuiste
Maatskaplike werkers speel ʼn kragtige rol in mense se hantering van verlies. Deur kreatief, sensitief en kundig op te tree, kan hulle nie net genesing fasiliteer nie, maar ook veerkragtigheid versterk. Die pad van rou verg ook wysheid en sorg – vir die kliënt én vir jouself.
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk besef die waarde van maatskaplike werkers in gemeenskappe en glo dat jy as maatskaplike werker werklik ʼn onmisbare rol in talle mense se lewens speel. Daarom bied ons ʼn veilige hawe vir maatskaplike werkers waar hulle die nodige ondersteuning en geleenthede vir ontwikkeling kan vind om hul roeping met selfvertroue uit te leef.
Sluit aan by Solidariteit en word deel van jóú beroepstuiste wat jou beskerm, ondersteun en inlig.