loading
Artikels
1 jaar gelede
ervare-onderwysers-vertel-wat-ek-wens-ek-as-beginner-onnie-geweet-het

Foto Krediet: OkayDeer

Ervare onderwysers vertel: Wat ek wens ek as beginner-onnie geweet het

Deur René Brown

Het jy vanjaar met jou loopbaan as onderwyser begin? Soos met enige beroep het die onderwys sy eie, unieke stel uitdagings. Soms kan jy ’n struikelblok teëkom waarvoor die boeke op universiteit jou nie voorberei het nie. Dìt is waar ervaring goud werd word. Ons het vier gesoute onnies gevra om die waardevolste lesse te deel wat hulle uit jare se ervaring geleer het. Hier is die skatkis van wysheid wat hulle met ons gedeel het! 

Moenie skroom om raad te vra nie 

“Nader ’n ervare onderwyser vir leiding – hulle kan jou in een gesprek meer leer as wat jy op jou eie in ’n maand kan uitpluis, en so kan jy heelwat foute vermy,” sê Elizabeth Koorts, ’n hoërskoolonderwyseres met 11 jaar se ervaring. Die onvermydelike foute wat jy wel gedurende jou eerste jaar in die onderwys maak, sal ook jou beste leermeester wees.

Bly kalm 

Lindi Botha, ’n grondslagfase-onderwyseres met 29 jaar se ervaring, sê: “’n Kalm energie in die klaskamer is aansteeklik, en dit begin by jou as onderwyser.” Oomblikke van chaos in die klaskamer kan oorweldigend wees, veral vir ’n nuwe onnie. Wanneer jy rustig met ’n kind kan praat, dring jy baie meer effektief tot hom/haar deur.  “Respek kweek respek,” las Chantal Reyneke, ʼn voorskoolse onderwyseres met vier jaar se ervaring, by. Verder wys sy daarop dat reëls, roetine en konsekwentheid net so belangrik is om jonger kinders sekuriteit te bied en dissipline te handhaaf.

Vestig goeie verhoudings en skuif soms emosies opsy

Skoolhou is nie elke dag maklik nie en daar sál uitdagings wees. Lindi Botha deel ook: “Om ’n onderwyser te wees, behels nie net jou werk met die kinders nie, maar ook die ouers, gemeenskap en jou mede-kollegas.” As jy ’n goeie verhouding met die ouers en jou kollegas kan vestig, verseker jy vir jouself ’n goeie fondasie vir sukses. Kelsey du Pisanie, ʼn laerskoolonderwyseres met nege jaar se ervaring, vertel ook dat dit soms nodig is om sonder die lens van jou eie emosies na ’n situasie te kyk: “Wanneer ’n ouer iets met jou kom bespreek, is dit nie persoonlik nie; dit is slegs omdat hulle die beste vir hul kind wil hê.”

Hanteer elke kind met ’n ouerhart

’n Punt wat tydens die meeste van ons onderhoude met dié onderwysers opgeduik het, is dat jy met ander oë na die kinders in jou klas kyk nadat jy jou eie kinders gehad het. Daarom is hulle raad om elke kind met ’n ouerhart te hanteer en te besef dat elke kind huislike omstandighede het wat gedrag beinvloed. “Maak seker jou hart is elke oggend volgelaai met liefde; liefde maak baie dinge beter of selfs reg!” sê Chantal Reyneke. Wees ’n vertroueling vir die kinders in jou klas, sodat hulle veilig voel om hul gevoelens met jou te deel.

Jy as onnie is ook net ’n mens 

Net soos wat ’n kind ’n afdag kan beleef, gebeur daar soms ook dinge in jou persoonlike lewe wat dit moeilik maak om jou beste voetjie in die klaskamer voor te sit. Lindi Botha het met haar byna drie dekades se ondervinding geleer dat kinders maklik agterkom wanneer ’n onderwyser ’n afdag het, en hulle kan dit interpreteer as dat hulle iets gedoen het om dit te veroorsaak. Daarom is dit vir haar belangrik om haar emosies ook met hulle te deel. “Jy sal verstom wees oor hoeveel ondersteuning ’n kind jou kan gee,” sê sy.

Onthou die groter prentjie

Op die moeiliker dae is dit belangrik om te onthou dat die impak wat jy op jou studente se lewens het, ver buite die klaskamer gaan strek en dat hulle dit lank ná hulle skooljaar by jou nog gaan onthou. Jy bou aan ’n toekomstige generasie se sukses, en jou invloed op elke kind wat in jou skoolbanke gaan sit, maak saak!

#RaakTuis by Solidariteit. Klik hier om vandag nog ‘n lid te word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel