loading
Artikels
1 dag gelede
sperdatum-verstryk-solidariteit-gaan-voort-met-minagtingsaak-teen-president

Foto Krediet: Okay Deer

Sperdatum verstryk: Solidariteit gaan voort met minagtingsaak teen president

Solidariteit se regspan is opdrag gegee om met die litigasieproses teen president Cyril Ramaphosa oor minagting van die hof voort te gaan. Dit is in verband met die saak oor rasregulasies wat op 15 April uitgereik is.


Solidariteit se opdrag volg op die verstryking van die tydperk van aanmaning waarbinne regulasies van die Wet op Gelyke Indiensneming onttrek moes word. Sien Solidariteit se aanmaningskrywe van 23 April hier.

Die staat het hom egter nie aan die spertyd gesteur nie.

Solidariteit gaan dus voort om president Ramaphosa in sy hoedanigheid as staatshoof, asook die minister van arbeid en indiensneming saam met ander betrokke regeringsamptenare voor die hof daag.

Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, weerspreek die regulasies en sektorale rasteikens wat gepubliseer is duidelik die bekende skikkingsooreenkoms van 2023 tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering.

“Die ander kriteria wat ook, volgens die skikking, in ʼn onderneming se regstellende-aksieplan teenwoordig moet wees, sluit in dat dit tydelik moet wees, dat die inherente vereistes van die werk in ag geneem moet word, tesame met die poel van beskikbare werkers, hul kwalifikasies, vaardighede, ervaring, beskikbaarheid, vermoëns en nóg ander.

“Ongelukkig reduseer die regulasies hierdie verpligte kriteria tot ‘n diskresionêre wilsbesluit van werkgewers. In terme van die gepubliseerde regulasies is die enigste verpligte nakomingskriteria dat werkgewers moet voldoen aan rigiede raskwotas soos deur die staat bepaal.

“Dit is absoluut immoreel en onwettig,” sê Van der Bijl.

Solidariteit gaan ook die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) nader aangesien die IAO, in teenstelling met die rigiede raskwota-regulasies wat Suid-Afrika as lidland voorskryf, genuanseerde en tydelike regstellende maatreëls eis.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel