loading
Mediaverklarings
12 uur gelede
solidariteit-eis-einddatum-vir-rassewette-wat-deur-suid-afrikaners-verwerp-word

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit eis einddatum vir rassewette wat deur Suid-Afrikaners verwerp word

’n Dringende gesprek is nodig om die uitfasering van rassewette in Suid-Afrika te beplan. Beleid word beoordeel op grond van uitkomste, nie bedoelings nie, en volgens die jongste peilings verwerp die meerderheid Suid-Afrikaanse landsburgers toenemend rassewette. Lees meer hier.


Solidariteit is van voorneme om plaaslike druk op owerhede en belangegroepe te verskerp sodat Suid-Afrika ’n aktiewe gesprek begin oor wannéér en hóé rassewette as sogenaamde regstellendeaksiemaatreël ten einde moet loop.
Die groeiende behoefte aan die afskaffing van rasreëls word opnuut weerspieël in ’n Ipsos-peiling wat dié marknavorser in opdrag van News24 uitgevoer het. Daarin dui net 44% van Suid-Afrikaners aan dat hulle nog ten gunste van die behoud van wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is.
Volgens die peiling glo minder as die helfte van swart Suid-Afrikaners dat SEB moet voortgaan, terwyl die meerderheid wit en bruin Suid-Afrikaners ’n onmiddellike einde daaraan wil sien.
Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is dit beslis nie die eerste peiling wat wys dat Suid-Afrikaners nie verder in SEB of ander rassewette belangstel nie.
Hy verwys ook na ’n peiling van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) in 2021 waarin bevind is dat net 3% van Suid-Afrikaners en sowat 4% van swart Suid-Afrikaners SEB as ’n prioriteit beskou.
“Anders as wat die hoofopskrifte sê, verkies mense meriete. Die grootste rede waarom mense BEE in hulle massas verwerp, is dat dit niks positief vir enigiemand behalwe die elite met politieke bande beteken nie.
“Hierdie peiling toon ook dat die grootste behoefte van Suid-Afrikaanse burgers werk en veiligheid is. Rassewetgewing doen niks daaromtrent nie, dit is sleg vir Suid-Afrika se ekonomie en dit is sleg vir Suid-Afrika se bevolking. Dit is ’n meulsteen om Suid-Afrika se nek.
“Hierdie Ipsos-peiling strook met dit wat Solidariteit ook sien. Mense oor alle rasse heen soek ’n einde aan rassewette. Die ANC moet ag slaan op die wil van die mense en met gesprekke oor die uitfasering van hierdie beleide begin,” sê Mulder.
Die nasionale verkiesing van 2024 het volgens hom verder beklemtoon hoe die meerderheid Suid-Afrikaners die ANC se beleidsrigtings by die stembus verwerp het, en dit is ook duidelik te sien in peilings soos dié oor rassewette.
Mulder is verder van mening dat SEB aanvanklik drie oorhoofse doelwitte gehad het.
“Rassewetgewing soos SEB is aanvanklik ingestel om swart werkloosheid, armoede en ongelykheid te verbeter. Tog – na 20 jaar van hierdie beleide – lyk al drie hierdie maatstawwe, naamlik swart werkloosheid, armoede en ongelykheid, aansienlik swakker. Rassewetgewing bereik dus glad nie die doelwitte wat dit beoog het nie – trouens, dit vererger die krisis. Ook word al groter internasionale druk vanuit veral die VSA op die Suid-Afrikaanse regering toegepas om diskriminerende rassewetgewing te laat vaar.
’n Afvaardiging van die Solidariteit Beweging het tydens ’n besoek aan die VSA in Februarie ’n rasdokument aan Amerikaanse regeringslui oorhandig wat die absurde uitwerking van rassewette in Suid-Afrika uitwys.
Volgens Mulder word die skadelike uitwerking van rassewette nou wyd oorsee en plaaslik erken, maar dit is asof net die regering en sy oorblywende volgelinge nog nie die boodskap gekry het nie.
“Mense oorsee besef ook, net soos die deursnee Suid-Afrikaner, hoe dit net ’n klein polities verbonde elite is wat reusevoordeel daaruit trek. Mense sien hoe dit die ekonomie skade berokken en hoe dit gewone mense benadeel.
“Suid-Afrika ondervind wesenlike uitdagings met werkloosheid, armoede en ongelykheid. Ons sê nie dat daar niks aan gedoen moet word nie; ons sê dat Suid-Afrika iets anders moet doen. Ekonomiese data, peilings en politieke steun wys dat huidige rassewetgewing nie werk nie – dit is tyd om dit as ’n saak van dringendheid uit te faseer.
“Suid-Afrika sal werk as Suid-Afrikaners werk – ons het dringend beleid nodig wat beleggings en groei sal aanwakker sodat ons welvaart en werk vir almal kan skep – nie net vir die ANC-elite nie,” sê Mulder.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel