loading
Artikels
3 dae gelede
rassewette-die-plan-om-dit-finaal-te-stop

Foto Krediet: Solidariteit

Rassewette – die plan om dit finaal te stop

Die rasbuffel is noodlottig gekwes, is meer aggressief, maar kan dit nie oorleef nie. Die regering is besig om nuwe rassewette voor te stel wat ras die enigste maatstaf in die werkplek maak. Die tyd is ryp om die stryd teen Suid-Afrika se rassewette te verskerp. Rassewette moet stop ter wille van jou, ons kinders, ons gemeenskap en ons land.

Waarom rassewette stop?

Dit lei tot meer ongelykheid. Suid-Afrika is nou meer ongelyk as voor die nuutste rasseregulasies afgekondig is. Dit raak veral ook swart gemeenskappe omdat die nuwe regulasies tot algemene werkloosheid lei.

Dit verryk net ʼn klein, hoofsaaklik elitegroepie. Rassewetgewing het ʼn klein elite geskep tot nadeel van die groot meerderheid van die bevolking. Die verryking van die elite het veral plaasgevind deur swart bemagtiging as voertuig vir sistemiese korrupsie te gebruik. Hierdie korrupsie is goed gedokumenteer in die verslag bestaande uit ses volumes van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping onder die leiding van oudhoofregter Zondo. Een van die gevolgtrekkings wat in die Zondo-verslag opgeneem is, is dat die beleid van swart bemagtiging tot misbruik en korrupsie gelei het.

Dit verhoog armoede. Sedert die implementering van die rassewetgewing het armoede in Suid-Afrika verhoog en die ekonomie kon nie ná die finansiële krisis van 2008 herstel nie.

Dit skep werkloosheid. Werkloosheid in Suid-Afrika staan op 41,8% volgens die breë definisie van die term. Swart werkloosheid het egter sedert 2009 van 33,8% na 46,1% gestyg.

Dit benadeel dienslewering. Die verlies aan kundigheid en institusionele kennis het daartoe gelei dat staatsfunksies ingeplof het wat tot groot nadeel van die ekonomie, werk en dienslewering strek. Eskom, Suid-Afrika se kragvoorsiener, is die sprekendste voorbeeld hiervan. Eskom het rasgebaseerde pakkette vir wit werknemers aangebied om van hulle ontslae te raak, en rassekwotas ingestel wat vir die aanstelling van ingenieurs en ambagslui geld. Dit het tot grootskaalse vaardigheidsverliese, onstabiliteit in die voorsiening van krag en beurtkrag gelei. Eskom betaal ʼn raspremie van sowat 30% op aankope wat die koste van elektrisiteit vir alle Suid-Afrikaners opjaag.

Dit skend minderhede se regte. Die reg wat bruin, wit en Indiërminderhede op werk het, word deur harde rasseteikens aangetas. Dit lei tot absurde gevolge waar ʼn sogenaamde “rasrekenaar” gebruik word om te bepaal wie aangestel en bevorder mag word.

Solidariteit het ʼn omvattende plan van aksie aangekondig om die rasbuffel te stuit.

1. ʼn Regsaksiefonds van R7 miljoen gaan begin word vir omvattende litigasie plaaslik en aksies internasionaal. Om dit te doen poog Solidariteit om 1 000 mense te kry om tot dié fonds by te dra.

2. ʼn Aansoek oor minagting van die hof gaan teen president Ramaphosa gebring word vir die verbreking van die ooreenkoms wat die regering in 2023 met Solidariteit gesluit het en wat ʼn bevel van die hof gemaak is.

3. ʼn Klag gaan by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) gelê word oor die regering se verbreking van die 2023-ooreenkoms wat onder toesig van die IAO bereik is.

4. Die nuwe rasseregulasies gaan in die hof uitgedaag word.

5. Die R100 miljard-transformasiefonds van die regering gaan in die hof uitgedaag word.

6. ʼn Klag gaan by die spesiale rapporteur van die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie gelê word waarin onder meer gevra gaan word vir ʼn mediasieproses met die Suid-Afrikaanse regering oor die uitfasering van rassewette.

7. Besoek gaan gebring word aan lidlande van die Europese Parlement met ʼn spesifieke fokus op G20-lande met ʼn versoek om internasionale druk op Suid-Afrika uit te oefen om rassewette uit te faseer. Dit is ʼn belangrike voorwaarde om Suid-Afrika meer beleggingsvriendelik vir buitelandse beleggers te maak.

8. ʼn Verslag oor die verskerping van rassewette gaan aan die Trump-administrasie oorhandig word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel