
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
FlySafair – Gesins- en rustyd ʼn prioriteit vir vlieëniers
Die verbetering van lewenskwaliteit is die hoofsaak vir vlieëniers wanneer die bemiddelingsproses tussen Solidariteit en FlySafair se bestuur môre (23 Julie) plaasvind.
Die proses is deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), ingevolge artikel 150 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, versoek.
Hoewel die vlieëniers ook ʼn redelike salarisverhoging nastreef – onder meer om hul vergoeding terug te bring na die vlakke van vóór die Covid-19-pandemie – is die verbeterde werksomstandighede veral van kritieke belang.
ʼn Nuwe roosterstelsel, wat onlangs eensydig deur FlySafair geïmplementeer is, het vlieëniers se gevestigde werksomstandighede, wat oor die afgelope dekade geldig was, drasties verander. Hierdie nuwe rooster belemmer voldoende rusperiodes en ondermyn vlieëniers se gesinslewe.
Aangesien vlieëniers se werksdae dikwels voor sonsopkoms begin en tot laat in die aand duur, is genoegsame rustyd van uiterste belang vir die veiligheid en welstand van vlieëniers – asook passasiers.
Boonop werk vlieëniers sewe dae per week volgens ʼn roterende rooster, wat hul gesinslewe ingrypend beïnvloed in vergelyking met diegene wat volgens standaard kantoorure werk.
In die komende ontmoeting onder die toesig van die KVBA is dit dus noodsaaklik vir FlySafair om ʼn bereidwilligheid te toon om meer buigsaamheid in die roosterstelsel te verseker.
Voorstelle om ʼn skikking te bewerkstellig sluit onder meer in:
• dat vlieëniers binne elke vyfweek-roostersiklus ten minste een naweek af sal hê, asook twee opeenvolgende dae af om behoorlik te rus en kwaliteit tyd saam met hul gesinne deur te bring;
• die geleentheid vir vlieëniers om skofte met kollegas te kan uitruil in gevalle waar gesinsverantwoordelikhede sodanige buigsaamheid noodsaak;
• dat indien hulle op hul afdae moet vlieg, hulle vir dié afdae binne die volgende roostersiklus vergoed sal word.
Bykomende roostervoorstelle sal ook aan FlySafair se bestuur tydens die bemiddeling voorgelê word.
ʼn Roosterkompromie sal geen bykomende koste vir die werkgewer inhou nie. Indien FlySafair aan hierdie redelike versoeke voldoen, sal Solidariteit bereid wees om die eis oor salarisverhoging en alle ander verwante eise te hersien en kompromieë aan te gaan.
Solidariteit doen hiermee ʼn beroep op FlySafair se bestuur om oopkop na die onderhandelinge te kom en gehoor te gee aan die regverdige eise van hul vlieëniers.
FlySafair se toegewings sal nie net die weg baan vir ʼn skikking nie, maar ook die geleentheid bied om hul verhouding met vlieëniers te herbou en hul reputasie as voorkeurwerkgewer te herstel.
Die behoud van hierdie gesogte en vaardige werknemers is verder noodsaaklik, veral aangesien hulle in aanvraag by internasionale lugrederye is.
FlySafair se bestuur het nou die geleentheid om daadwerklik te wys dat hulle die welstand van hul vlieëniers en die veiligheid van hul passasiers opreg op die hart dra.
ʼn Skikking sal outomaties die uitsluiting van die vlieëniers beëindig en sodoende stabiliteit en volhoubaarheid vir die lugredery herstel.
Dit sal ook die ontwrigting wat passasiers moet verduur tot ʼn einde bring.
Woordvoerders:
Gideon du Plessis
Hoofsekretaris: Solidariteit
082 776 6417
Helgard Cronjé
Adjunkhoofsekretaris: Openbare Bedryf
084 336 8561