loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
werkgewers-gewaarsku-oor-onwettige-rasregulasies

Foto Krediet: Solidariteit

Werkgewers gewaarsku oor onwettige rasregulasies

Solidariteit waarsku werkgewers regoor die land om nie onder die druk van die regering roekeloos rasseplanne teen 1 September in te dien nie, aangesien regeringsregulasies daaroor waarskynlik onwettig is.

Solidariteit het ’n omvattende aansoek by die hof ingedien waarin die wettigheid van die betrokke regulasies uitgedaag word. Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit, is daar ernstige grondwetlike en prosedurele gebreke aan die regulasies wat onlangs deur die minister van indiensneming en arbeid, dr. Nomakhosazana Meth, gepubliseer is en moet dit tersyde gestel word. Dit kan verreikende negatiewe gevolge inhou vir werkgewers wat ondeurdag voortgaan om regulasie-gebaseerde raskwotas in hulle personeelstruktuur in te werk.

Solidariteit het skriftelik werkgewers gemaan om nie voort te gaan met die implementering van regstellendeaksieplanne gebaseer op die regulasies nie (klik hier om die skrywe te lees). Saam met die skrywe word werkgewers gewaarsku teen ʼn moontlike interdik sou hul rasplanne, wat moontlike onwettige teikens bevat, ingedien word. Verder is daar ʼn kwytskeldingsaansoek aan werkgewers gestuur wat hulle so gou as moontlik aan die Departement van Arbeid kan stuur. Klik hier om die aansoek af te laai. Werkgewers word aangeraai om:

  1. die opstel of finalisering van sulke planne te staak;
  2. aanstellings of bevorderings ingevolge die regulasies te staak;
  3. kwytskelding van die regulasies by die Departement van Arbeid aan te vra; en
  4. ’n dringende besluit oor die kwytskelding voor 1 September 2025 aan te vra.

“Dit is belangrik vir werkgewers om kennis te neem van ons hersieningsaansoek. Dit het die moontlikheid om die regulasies, en enige planne en aksies daarop gebaseer, onwettig te laat verklaar. Werkgewers wat dus kies om moeite te doen om aan die voorskrifte van hierdie gebrekkige regulasies gehoor te gee, kan uiteindelik verantwoordbaar gehou word vir onregmatige diskriminasie of ander regsoortredings,” sê Van der Bijl.

Klik hier vir Solidariteit se hersieningsaansoek.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel